Slang in die Gras

En soos die manne mettertyd agterkom, is daar nou behalwe die paar skelms ook ‘n paar aardige dinge wat na donker hier in ons vallei aangaan. Van die snaaksste staaltjies wat hier by Slang aankom het, het gewoonlik iets te doen met die gebrek aan die nodige bedekking van die vlees van party van die inwoners wat nou nie ’n buurtwagpatrollie verwag het nie. Van die manne het al lankal die mees romantiese wegkruip-plekke by die dam ontdek en kom gereeld af op passievolle paartjies wat nou geen ander plek as die agtersitplek van hul motor kon vind nie. In die wintermaande word die ergste darem vir die patrolliemanne gespaar as die motorruite toegewasem is. In die somermaande egter word daar gereeld op die lustige paartjies afgekom agter ‘n graspol of sommer so teen ‘n boomstam.
‘n Bekende besigheidsman van die omgewing kom gereeld eers na agtuur saans by die huis nadat hy sy winkel gesluit het. Dié bly op die plotte met ‘n taamlike lang stuk grondpad tussen sy hek en woning. Die kinders was ook al mooi groot en die romanse was nou eintlik nie meer soos wat dit moet wees nie. Met dié kom die man aand na aand by die huis met sy kinders wat op die rekenaars speel en vroulief wat al lankal voor die televisie tuisgemaak is.
Na die soveelste aand wat die man na ‘n lang dag se werk weer tuis kom, besluit hy dit is nou die tyd om sy voet neer te sit. Hy roep so ‘n vinnige familievergadering byeen en kondig aan dat genoeg nou genoeg is. Van nou af sal hy vriendeliker en met so ‘n tikseltjie meer respek by die huis verwelkom word. After all, hy is dan mos die een wat die nodige geldjies huis toe bring. Vroulief het haar eers bloedig vererg, maar later toe haar man sonder ‘n bord kos en nou nie eers om te praat van die ander byvoordele van die huwelik nie, in die bed lê en snork, begin sy half skuldig te voel.
Die volgende aand het vroulief vroeg die kinders kamer toe gestuur, ‘n heerlike ete voorberei en sommer vir die wis en onwis ‘n paar kerse aangesteek en ‘n bottel wyn op die ys gepak. Kort voor agt het sy ‘n nuwe sexy nagrokkie aangetrek en toe sy haar man se kar by die plaashek hoor, het sy so al dansende met die pad afgetrippel en haar nagrokkie stadig oopgeknoop en al haar bates mooi in haar moeë man se hoofligte vertoon.
Haar man was egter laat by sy besigheid opgehou en Plotwag het bietjie vroeër as gewoonlik kom patrolleer.
So het dit dan gekom dat R & M se plot nou sommer gereeld deur Ifafi, Meerhof en Schoemansville se buurtwagte ook besoek word.

  AUTHOR
Deon van Huizen
Editor

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Hand Cycle