Die langverwagte Aarbeifees is weer hier, Brits- en Hartbeespoort-inwoners kan uitsien na ‘n naweek van vermaak en aarbeie teen spotgoedkooppryse.

Die fees vind Vrydag en Saterdag, 2 en 3 September, by Heartland Equestrian Park op die R511 tussen Hartbeespoort en Brits plaas.

Met 180 stalletjies, musiekvermaak deur bekende kunstenaars, ‘n perdeskou, biertuin, kindervermaak en tonne aarbeie, beloof dit om ‘n geleentheid te wees wat niemand moet misloop nie.

Die hekke open Vrydag om 13:00. Vrydag kan feesgangers uitsien na musiekvermaak deur Marli, Lollos, Rooksien en Bernice West. Saterdag skop die fees om 10:00 af en kunstenaars soos Juan Boucher, Martin Bester, Juanita en Kaalvoetkinners, en vele meer sal deurgaans vermaak aanbied.

Die groot lokmiddel – aarbeie! – sal teen weggeepryse verkoop word: ‘n Bakkie van 250g vir net R8, 1kg vir R25, 5kg vir R100, en tuisgemaakte aarbeikonfyt vir R25!

Die Aarbeifees word jaarliks aangebied om fondse in te samel vir donasies aan klein gemeenskapskole, Hospice, armoedeverligting, gemeenskapsprogramme om vroue en kinders te beveilig en misdaadvoorkomingorganisasies soos die gemeenskapspolisiëringforums.

Ingang kos R100 vir volwassenes. Kinders onder 12 is gratis. Bring kampstoele saam en geniet ‘n heerlike lentedag by dié fees.

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident