‘n Afdruk van die bekende Adriaan Boshoff-skildery ‘New Found Friends’ is deur Adriaan Boshoff Jnr geskenk om geld in te samel vir leerders van Laerskool Broederstroom wat nie die skool se komende veldskool kan bekostig nie.

“Ek het op ouers se WhatsApp-groep gesien sowat helfte van die Graad 7-kinders kon nog nie betaal vir die veldskool wat die einde van Augustus plaasvind nie. Het jy al die opgewondenheid van ‘n 13-jarige kind beleef wat vir die eerste keer die see gaan sien? Ek onthou toe my kinders veldskool toe gegaan het. Die vroegoggend by die skool aflaai met ‘n sak klere en ‘n bottel sonroom wat net so geseël terug huis toe gekom het. Die opgewonde gebabbel van die wat die see ken wat die wat nog nooit daar was nie probeer inlig wat om te verwag,” sê Adriaan Jnr.
“Dit het my gepla en na ‘n slapelose nag het ons besluit om dié werk van my pa uit te loot teen R100 ‘n kaartjie.”
Mense wat graag dié pragtige werk wil besit, kan ‘n lootjie koop en die geld direk in Laerskool Broederstroom se rekening inbetaal. Die bankbesonderhede is Nedbank, rekeningnommer 1876031301, met verwysing ‘Skye velds borg’.
Stuur jou bewys van betaling aan Andri by 061 233 4844 wat jou loterykaartjienommer sal stuur.