AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig nou slagoffers van korrupte verkeersbeamtes wat beskuldig word van misdade waaronder roof, ontvoering en aanranding.
Talle Hartbeespoort-inwoners het al onder dié korrupte verkeersbeamptes van die Tshwane Metropolisie deurgeloop. In een van die sake, het twee beamptes, Johnson Lebombo en Aubrey Phalane dié week in die Pretoria-landdroshof verskyn. Lebombo, Phalana en Makgoba Ramokshakga is die beskuldigdes in verskeie sake waar die eenheid ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag optree.
“Hierdie nuwe sake dateer sover as 2017 terug en is by verskeie polisiekantore aangemeld. Die drie verdagtes word ook na verneem word ondersoek in verskeie interne dissiplinêre sake wat verband hou met soortgelyke aantygings. Hulle is van diens geskors,” het Afriforum-woordvoerder, Barry Bateman, gesê.
“Die privaatvervolgingseenheid staan sterk in die stryd teen korrupsie en die misbruik van magte deur wetstoepassers. Lede van die publiek moet die regte ding doen en na vore kom om te verseker dat diegene wat hul magsposisies misbruik om hulself te verryk uiteindelik aan die pen ry. Die eenheid sal voortgaan om slagoffers van hierdie tipe misdade te ondersteun.”
Die Tshwane Metropolisie het vroeër vanjaar aangekondig dat lede van die publiek foto’s van verkeerspolisie en hul voertuie mag neem, sowel as insidente van korrupsie mag verfilm of opneem. Motoriste word ook aangemoedig om beamptes se aanstellingsertifikate te versoek. Dié direktief volg op toenemende klagtes van afpersing en korrupsie deur beamptes.