AfriForum vra Madibeng om salarisse te besnoei
AfriForum se takke in Brits, Hartbeespoort en Mooinooi vra in hul voorstelle vir die jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien by die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit dat salarisse met 8% besnoei word sodat dié geld vir dienslewering aangewend kan word.
Stephan Roos, voorsitter van AfriForum se Brits-tak sê dat die Madibeng-munisipaliteit voorsiening moet maak vir hul instandhoudings- en herstelfonds eerder as om groter salarisse te betaal aan personeel wat nie presteer nie. Volgens ’n voorstel moet die salarisse van 28.7% na 20% besnoei word en die broodnodige instandhoudings- en herstelfonds moet verhoog word na 8% toe.
“Miljoene rande van die munisipale fonds word spandeer op ongemagtigde uitgawes. Ons dring daarop aan dat die Madibeng-munisipaliteit antwoorde moet verskaf oor hierdie uitgawes. Sulke uitgawes kan nie net geduld word terwyl ons dorpe agteruitgaan en munisipale amptenare hulle sakke volstop nie,” sê Roos.
Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, sê dat dit noodsaaklik is vir takke om aan munisipaliteite se GOP-prosesse deel te neem en voorstelle soos hierdie in te dien. “Dit dra by tot die ontwikkeling van ons gemeenskappe. Ons het al voorheen voorstelle ingedien wat suksesvol in die geïntegreerde ontwikkelingsplanne opgeneem en later uitgevoer is. Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om deel te neem aan hierdie prosesse selfs al voel dit of dit nie gaan help nie, dit maak ’n verskil.”