Aliza Els (34), ‘n bekende gesig by die Hartbeespoort polisiestasie is pas aangewys as die beste administrasieklerk in die land tydens die Polisie se National Excellence Awards.
Aliza, wat bekend is vir haar groot glimlag en behulpsaamheid, is beloon vir haar toewyding aan haar werk, en haar bereidheid om meer te doen as wat van haar verwag word. Buiten haar werk as senior administratiewe klerk en die stasiebevelvoerder se regterhand, werk sy nou saam met die polisie se misdaarvoorkomingspan, help met selfoonopsporing en die soektog na vermiste persone. Sy help ook met die polisie se kommunikasie- en sosiale media platforms en voel baie sterk oor die gemeenskapspolisiëringsforum en die gemeenskap. Sy stap die ekstra myl en dit het haar nou met ‘n nasionale toekenning beloon.
“Ek kan nou nog nie glo ek het die toekenning gewen nie. Dit was al klaar ‘n skok toe ek hoor ek het in Noordwes gewen. Dit is ‘n groot eer en dit motiveer my om nog meer te doen. Ek glo ook dit is motivering vir ander polisielede om hul beste te gee en nie op te gee nie. Dit is lekker om te weet ek maak ‘n verskil in mense se lewens,” sê sy.
Aliza het tot drie jaar gelede meestal net administrtiewe werk gedoen, maar toe betrokke geraak by die misdaadvoorkomingspan en saam met hulle begin werk om verdagtes op te spoor. “Toe ek 16 jaar gelede by die polisiediens begin werk het, wou ek aanvanklik by die mag aansluit, maar ek wou kinders hê en het geweet dit sal te moeilik wees. Nou voel ek of ek deel van die mag is, ek dra by tot die opsporing van verdagtes en vermiste persone. My werk is opwindend en stimulerend.”
Vir dié senior administratiewe klerk en regterhand van die stasiebevelvoerder is haar werk nie net nog ‘n dag op kantoor nie. Sy geniet elke oomblik daarvan want sy weet sy beteken iets vir die gemeenskap.
“Sedert ek nie meer net administrasie doen die afgelope drie jaar nie, het my werk ‘n plesier geword. Ek geniet die adrenalien en die uiteindelik bevrediging as my werk kan help dat ons polisielede verdagtes vastrek.
In die afgelope drie jaar het sy ‘n wye netwerk kontakte opgebou wat bydra tot die sukses van die misdaadvoorkomingspan. Sy werk nou saam met sekuriteitsmaatskappye en nooddienste en is betrokke by die aktiwiteite van die gemeenskapspolisiëring en misdaadbekamping.
Sy huiwer nie om na-ure op eie onkoste te werk nie. Soos onlangs toe ‘n inwoner by Silkaatsnek in die Magaliesberg vermis geraak het. Sy het deur die dag en nag met die vermiste persoon se familie en polisielede in verbinding gebly om almal se veiligheid te verseker.
“As ek met iets begin, sien ek dit deur na die einde.” En haar werk is nie maklik nie. Sy monitor 32 misdaadgroepe op sosiale media en kommunikeer inligting op sosiale groepe regdeur die Noordwes provinsie.
Aliza en haar man en twee kinders woon die afgelope agt jaar in Hartbeespoort. “Ek geniet dit baie in Harties. Ek het nog nooit so ‘n groep mense wat saamstaan in ‘n gemeenskap gesien nie. As daar nood is, help almal mekaar. Ek het ‘n passie vir mense en het van kleinsaf geweet ek wil ‘n loopbaan volg waar ek met mense werk. En om mense te help, laat my goed voel. Lede van die publiek wat by ‘n polisiestasie aankom is meestal getraumatiseer en ek probeer om hul las en stres ligter te maak. ‘n Besoek aan die polisiestasie moenie die trauma vererger nie”
In haar vrye tyd, spandeer die gesin tyd in the buitelug en hulle kamp graag. “Ons besoek natuurreservate en doen staproetes. Ons bly in so mooi deel van Suid-Afrika.”
En toekomsplanne? Sy glimlag breed. “My groot droom is om ‘n privaatspeurder te word. Ek is egter nog jonk en met klein kinders is dit nog nie moontlik nie, maar as hulle skool verlaat…” lag sy.
“Intussen is ek dolgelukkig in my werk. Dit is uitdagend en veelsydig en nooit vervelig nie. En my stasiebevelvoerder, kol Jannie van der Walt, speel ‘n groot rol hierin. Hy is baie ondersteunend en sy toewyding en kennis help en motiveer ons almal. Ek voel goed oor waar ek nou is.”