Annelien se nuwe boek op die rakke

Die meeste mense hou van ‘n stukkie vleis, so slyp jou vleistande vir die bekende Hartbeespoort-voedselkonsultant en kosskrywer, Annelien Pienaar se nuwe boek “Vleis” wat dié week deur Grafitti Uitgewers vrygestel is.

Annelien Pienaar

Dit is ‘n moet in elke vleisetende gesin se kombuis. Dié omvattende gids bevat alles wat jy ooit oor vleis wil weet – die snitte, voedingswaarde, veroudering, faktore wat die sagtheid bepaal, gaarmaakmetodes, bevriesing, terminologie – om maar net ‘n paar aspekte te noem. Annelien, ‘n topverkoperskrywer, bou hier voort op haar wenkonsep van ‘n resep met ‘n les, maar dié slag is haar fokus op vleis. Met resepte vir bees, lam en skaap, vark, pluimvee, afval en wild tot marinades, gegeurde soute en olies om die snitte te komplementeer, sal dié boek sy plek volstaan op jou kombuisrak.

“Vleis” is Annelien se tweede resepteboek en beloof om net so reuse sukses soos haar “Boerekos met ‘n twist” te wees. Dié boek is vroeër vanjaar aangewys as een van die 20 topverkoper boeke in Suid-Afrika. “Ek was baie verras hieroor, aangesien die boek reeds vier jaar oud is.”

Annelien is ‘n besige vrou, sy bedryf ‘n gastehuis in Skeerpoort, ‘n kosskool, ‘n uiters gewilde webtuiste, |Facebook-blad en blog – alles oor kos. Haar resepteboeke was ‘n natuurlike voortvloei uit haar webwerf met resepte wat sy self getoets het. “Ek het die webwerf gestig omdat ek voel daar is deesdae baie resepte wat die rondte doen wat nie getoets is nie. My resepte is goed uitgewerk met ‘n les in elkeen. Die nodige uitwysings vir moontlike probleme vir die resep word genotuleer om jou as bakker die soete smaak van sukses te gee. Dus, weet dat die resepte deur myself getoets en geskryf is,” sê sy.

Dié wat haar resepte volg, kan seker wees dat alle haakplekke vooraf uitgewys word, om bak- en kooksukses te verseker. Die boek is by vooraanstaande boekwinkels beskikbaar, of kan van Annelien se webtuiste bestel word.
Besoek Annelien se webtuiste annelienpienaar.co.za of die Facebook-blad Boerekos met ‘n Twist.