Bekende Hartbeespoort-inwoner oorlede

Die bekende Hartbeespoort-inwoner, Charles Minnaar, is op 4 Mei in die ouderdom van 84 oorlede na ‘n jarelange stryd met Parkinsonsiekte.

Charles Minnaar

Die geliefde inwoner en voormalige Suid-Afrikaanse landloopkampioen, het sedert 1962 in Hartbeespoort gewoon en was 28 jaar lank by die Hoërskool Hartbeespoort betrokke. Hy was bekend as die afsetter tydens die skool se atletiekbyeenkomste.

Charles was van 1961 – 1964 ‘n bekende atleet in Suid-Afrika en het gereeld podiumplekke vir verkillende items in provinsiale en nasionale atletiekbyeenkomste behaal.

In 1963 het hy teen die destyde wêreldrekordhouer, Peter Snell, die myl in slegs 4 minute, 0.5 sekondes voltooi, slegs a halwe sekonde van die eerste SA-droommyl van onder 4 minute. In dieselfde jaar het hy die bekende Goldreef-marathon tussen Germiston en Johannesburg met sy eerste probeerslag gewen.

Hy was lid van die Springbok-landloopspan wat in 1962 in Engeland en Frankryk aan internasionale byeenkomste deelgeneem het.

Hy het die afgelope vier jaar by die Sandstone Versorgingsentrum by Brits gewoon. Sy gesin het die sentrum bedank vir hulle versorging van Charles in sy laaste jare. Hy laat sy drie seuns, Charles, Kobus en Ian, na.

‘n Gedenkdiens word Vrydag, 20 Mei, by die Kuierkerk in Rietfontein om 11:00 gehou. Vir meer besonderhede, kontak Ian by 084 235 1209.