Bekende omroeper, Wimpie van der Sandt van Bok Radio-faam, het die afgelope week op Facebook-groepe landswyd vir hulp gevra en geld aangebied na hy ‘n foto van die verwaardloosde graf van die befaamde radio- en rugbyomroeper, Gerhard Viviers in Brits gesien het.
Van der Sandt se hulproep het uiteindelik in Hartbeespoort en Brits beland en hy sê daar was groot reaksie van mense wat hulp aangebied het na hulle sy inskrywing gelees het:
“Hierdie foto van my geliefde Gerhard Viviers se graf in Brits het my vandag bereik.
Hoe ‘n volk sy gevalle helde onthou sê baie van ons. In 2019 het ek Arlington in Amerika besoek en dit was opvallend hoe die Amerikaners hulle helde onthou …
Ek kan nie net bystaan en kyk hoe een van die heel grootste ikone in Afrikaans net eenvoudig nie die erkenning kry wat hy verdien nie. Minste wat ons as Afrikaners kan doen is om sy graf skoon te maak en te onderhou.
Vir elke drie wat ek op die radio kon luister, elke uitklophou en elke paaltjie wat Spiekeries beskryf het, is dit my plig om te sien dat hierdie man se graf minstens opgeknap word.
As enigeen iemand in Brits ken wat na die graf kan gaan omsien sal ek daai persoon R1000 uit my eie sak betaal om dit nou te gaan doen en R2400 per jaar van nou af om dit te gaan onderhou elke maand.
Gerhard Viviers is die rede hoekom ek ‘n omroeper wou word. Hy was die rede hoekom talle Springbokke die eerste keer ‘n rugbybal opgetel het.
Ek kan en het al baie dinge prys gegee en laat slide, maar nie die een nie!
Help my asb om hierdie boodskap te versprei tot ek iemand kan kry om te help hiermee. This is personal for me! Ek kan dit net nie laat gaan nie,” het hy op Facebook geskryf.
“Ek behoort aan ‘n Facebook-blad wat aan Gerhard Viviers toegewy is, en ek het die foto van die graf daar gesien. Dit het my baie ontstel. Dié man was my held. Hy was ‘n koning van Afrikaans. As dit nie vir hom was nie, het ek nie omroeper geword nie. Ek onthou toe ek ses jaar oud was het ek besluit, terwyl ek na hom op die radio geluister het, dat ek ook ‘n omroeper wou word. En ek het. Ek kan net dink hoeveel mense en rugbyspelers se lewens het hy met sy stem beïnvloed. Hy het soveel mense geïnspireer.”
Gerhard Viviers, of Spiekeries soos hy ook bekend was, was in die sestiger en sewentigerjare die Afrikaanse stem van sport. Rugby, krieket en boks het slegs mense bereik danksy Viviers se entoesiastiese kommentaar. Hy is ‘n legende in die omroeper- en sportwêreld.
Hy is in 1998 in die Langplaas-begraafplaas in Brits begrawe na hy aan kanker oorlede is.
‘n Granietbesigheid in Bloemfontein het aangebied om ‘n blad met ‘n rugbybal vir die graf te maak en dit te installeer. “Ons trokke ry twee keer per week Brits toe en ons sal die nuwe blad opsit en die graf skoonmaak. Voor ons dit egter kan doen sal die familie se toestemming, sowel as die plaaslike munisipaliteit se goedkeuring gekry moet word. Indien iemand dit doen, kan hulle ons laat weet en ons is reg,” sê Johan Jansen van Vuuren.
Hoewel daar groot reaksie op die hulproep was, is egter nog geen defnitiewe planne vir die opruiming van die graf nie.