Bobaas-potjies by GPF-potjiekoskompetisie

Tanya van Rooyen met haar heerlike hoenderpotjie in roomsous het Saterdag die De Wildt/Mmakau gemeenskapspolisiëring se potjiekoskompetisie gewen.

Potjiekoswenner, Tanya van Rooyen (agter) saam met die beoordelaars Georgie Louw, tannie Neeltjie Louw en Sandy Roberts.

Die kompetisie wat onder andere deur die bekende Sandy Roberts van die Margaret Roberts Kruiesentrum beoordeel is, is ten bate van die GPF gehou om noodsaaklike toerusting vir die omgewing se veiligheid aan te skaf.

“Ons poog om kameras, wat voertuignommerplate identifiseer in ons gebied aan te bring, sodat ons proaktief kan weet indien verdagte voertuie in ons area in beweeg. Hierdie tegnologie kos geld, maar as ons as gemeenskap saamstaan, soos met Saterdag se potjiekoskompetisie, kan ons uiteindelik hierdie doelwit bereik om misdaad te bekamp,” sê Janus van Rensburg van die GPF.

Die kameras sal ook die Hartbeespoort en Brits polisie kan bystaan aangesien vlugtende verdagtes dikwels deur die De Wildt-gebied vlug.

“Die GPF-lede, ry laatnag patrollies met hulle eie voertuie om die gemeenskap te beveilig. Voertuie het brandstof nodig, en gate in bande is glad nie ‘n snaakse verskynsel hier nie. Hulle moet ondersteun word om dié noodsaklike diens te verrig.”