Boer twee keer geskiet tydens plaasaanval naby Brits

Pier Schutte (43)

‘n Boer van Beestekraal naby Brits is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal na hy Woensdagaand twee keer tydens ‘n plaasaanval geskiet is.

Pier Schutte (43) is kort voor 18:00 by ‘n skuur op die plaas oorval toe hy na die vee gaan omsien het. Dit is die tweede keer dat hy vanjaar op die plaas aangeval word.

Volgens sy broer, Tiaan Schutte, is Pier by die stoor deur ‘n onbekende aantal aanvallers voorgelê en twee keer van agter geskiet.  “Een skoot is, na wat ek verneem, van agter deur sy rug teen die long verby en voor uit. Die ander skoot het hom in die kant van sy buik getref.”

Pier kon daarin slaag om sy buurman, Frans Kruger te bel om hulp te vra.  Frans was minute later op die toneel. “Pier het langs sy bakkie gelê en was nog by sy bewussyn. Hy kon kortliks vir ons vertel dat hy nie die aanvallers gesien het voor hulle hom van agter geskiet het nie. Hulle het daarna eers weggeloop en toe weer teruggekeer om sy bakkie te deursoek,’ het Frans gesê.

Paramedici was kort daarna op die toneel en het Pier op die toneel gestabiliseer voor hy met ‘n noodhelikopter na Millpark Hospitaal in Johannesburg gevlieg is.

Hy is onmiddellik geopereer. “Sy milt is verwyder en die diafragmawond is herstel. Hy is stabiel, maar sal vir ‘n paar dae onder sedasie gehou word. Hy sal vandag vir inwendige bloeding gemonitor word. Ons familie wil graag ons opregte dank uitspreek aan al die betrokke partye op die toneel asook al die gebede, Pier gaan dit baie nodig hê in die volgende paar ure, dae en weke,” het Tiaan gesê.

Pier is vroeër vanjaar ook by sy plaashek deur vier aanvallers ingewag wat met vuurwapens op hom losgebrand het toe hy die hek oopmaak. Hy het teruggeskiet en hulle het gevlug.

Assen polisie was op die toneel. Die aanvallers is nog op vrye voet.