Brandbestryder durf vlamme aan om hondjies te red

31/10/2024News

‘n Brandbestryder van die AfriForum-brandeenheid in Hartbeespoort het sy lewe gewaag om tydens die onlangse verwoestende brand in Kosmos twee hondjies van ‘n perseel, wat in vlamme gehul was, te red.

Olive en Stoffel is deur ‘n AfriForum-brandbestryder uit die vlamme gered.

Quintis van Jaarsveld was saam met die AfriForum-brandspan op die toneel om die brand te bestry toe hy hondekosbakke in ‘n perseel sien wat in vlamme gehul was. Die eienaars van die perseel was nie tuis nie. “Ek het besef daar moet diere op die perseel wees. Ek het ‘n werker gevra om my nat te spuit en die perseel ingehardloop. Die een muur was in vlamme gehul en die twee hondjies het in ‘n hoekie gesit. Ek het hulle opgetel en deur die vlamme gehardloop om weg te kom. Die rook was iets verskriklik, ek was bang ons maak dit nie,” het Quintis aan Kormorant gesê.
Sy dogter, Leoné (15), het die hondjies by hom gegryp en na die naaste bure gehardloop. Sam Moodley het die getraumatiseerde hondjies onmiddellik in haar kar gelaai en na die Motsumi Dierekliniek in Brits geneem. “Hulle was vreeslik getraumatiseerd en het onophoudelik gebewe. Die veearts het hulle vir skok en pyn behandel en hulle daar gehou om te verseker dat hulle longe nie beskadig is nie.”
Die eienaar van die honde, Barend van der Watt, sê hy was rasend toe hy hoor van die brande terwyl hy nie tuis was nie. “Ek is so dankbaar vir die brandbestryder wat vir Olive en Stoffel gered het, en die bure wat hulle veearts toe geneem het. Die veearts het my gebel en gesê hulle is by hom en dat hulle nie beseer is nie. Baie dankie vir julle!”