
‘n Plaasboer van Roodekopjes by Brits het Donderdag, 25 Junie, in die vroeë oggendure verbete met ‘n sambok teen vyf aggressiewe aanvallers baklei om te voorkom dat hulle by die huis inkom. Die boer en sy vrou is met die dood gedreig terwyl die aanvallers gepoog het om die deur na die huis af te breek.
“Ek het net aanhou slaan met die sambok as hulle nader aan die deur kom. Ek was nog nooit so bang nie. Nie vir myself nie, maar ek het gevrees vir my vrou. Ek kon onder geen omstandighede toelaat dat hulle by haar uitkom nie,” het Johan Breedt (55) gesê.
Die aanvallers was reeds ongeveer 22:30 die vorige aand op Johan en Susan (47) se plaas, maar het gevlug toe hulle deur die egpaar opgemerk is en Johan op hulle geskree het. Om 01:30 was hulle egter terug.
“Ek het reeds in die bed gelê en Susan het nog televisie gekyk toe sy 22:30 iets buite hoor. Sy het my geroep en ek het deur die sitkamer se skuifdeur gekyk en vier mans voor die motorhuis gesien. Ek het op hulle geskree en hulle het weggehardloop. Na ‘n tyd is ek terug kamer toe en het aan die slaap geraak. Ongeveer 01:45 het Susan my wakker gemaak en gesê hulle is terug. Dié keer was daar vyf en hulle was weer besig by die motorhuis. Ek het weer op hulle geskree en toe kom hulle na die sitkamerdeur toe.”
Die aanvallers was met messe en pangas gewapen en het rotse na die deur gegooi. “Die skuifdeur het in skerwe gespat en een het met ‘n boutsnyer die deur begin sny. Die ander het klippe na ons gegooi. Ek het net ‘n sambok by my gehad en het na hulle deur die traliehek begin slaan.”
Johan sê die leier van die groep was uiters aggressief en het rassistiese opmerkings geskree en hom uitgedaag om na buite te kom. “Hy het gesê hulle gaan ons nou doodmaak. Ek het geweet ek moet hulle buite hou of ons is dood.”
Die aanvallers het daarin geslaan om van die tralies van die veiligheidshek af te breek en probeer om by die binneste slot van die deur uit te kom. “As hulle hul hande deur die hek gesteek het, het ek geslaan.”
Susan het ‘n ent agter Johan gestaan en was besig om veiligheidstrukture te bel om hulp te ontbied. Een van die rotse waarmee die aanvallers die egpaar bestook het, het in stukke gespat en Susan teen die kop getref.
“Hulle was besig om die deur af te breek toe die ligte van die GPF, PPS-sekuriteit en Afriforum opdaag.” Die groep aanvallers het met ‘n bossnyer gevlug.”
Susan het gelukkig net ‘n ligte kopwond opgedoen. “Die aanvallers was uiters aggressief en daarop uit om ons seer te maak. Dit was die mees traumatise ondervinding in ons lewens. Ek bewe steeds as ek daaraan dink.”
Die polisie was op die toneel en ondersoek die plaasaanval. Die egpaar sal berading, wat deur Afriforum aangebied word, ontvang. Die aanvallers is steeds op vrye voet.