Die AfriForum-buurtwag in Brits het die afgelope tyd aktief bygedra om misdaad in dié dorp te bekamp.
Danksy buurtwaglede se vinnige reaksie en bystand aan die polisie, is ‘n groot aantal arrestasies gemaak. Dit is deels te danke aan die gereelde patrollies om die gemeenskap veilig te hou.
“Die buurtwag het op verkeie huisbrake en ander klagtes gereageer, en ook die polise gehelp het om verdagtes vas te trek wat vir ’n bedrogsaak gesoek is. Altesaam 12 arrestasies is gedurende die maand gemaak te danke aan die buurtwag se flink optrede. Die buurtwag handhaaf goeie kommunikasie tussen die verskillende sektore wat hulle in staat stel om dadelik bewus te wees van risiko’s en misdaad,” sê Thys van Heerden, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.
“Daar is goeie samewerking tussen al die rolspelers en inligting word uitgeruil wat take baie vergemaklik. Ons doen egter ’n beroep op die publiek om sake by die polisie aan te meld, sodat geregtigheid kan geskied en dat akkurate statistiek gevorm kan word. Dit help die buurtwag ook om probleempunte en -areas te identifiseer en meer patrollies word dan in daardie gebied gery.”
Buurtwaglede het verlede jaar spesialisopleiding ontvang en beskik oor toerusting en toegang tot plaaslike en nasionale radionetwerke, sowel as samewerking van ander rolspelers wat uiters suksesvol is. “Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede moontlik. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.
“Ons is baie dankbaar dat die AfriForum-buurtwag in Brits van krag tot krag groei. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word en ’n besluit wat geneem word deur mense om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon. Die buurtwag doen goeie werk om hulle gemeenskap te help beveilig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
Vir meer inligting oor die buurtwag, kontak Thys van Heerden by 067 395 6307.