Die Krokodilrivier se naam is nie verniet wat dit is nie, en al glo die meeste Brits-inwoners dit nie, is dié rivier nog steeds propvol krokodille.
Deur Daleen van Manen

Na die afgelope weke se reën, het sosiale media dié week gegons na verskeie plasings van inwoners wat krokodille in hul damme, en self in hul tuine gekry het.
Willie Klopper, wat drie km buite Brits bly het in ‘n Facebook-plasing geskryf: “Julle mense hier in Brits moet ligloop. Kyk wat vang ek hier in my tuin op die plaas – ‘n krokodil.” Die krokodilletjie was nou weliswaar nog nie groot nie, maar waar daar een kleintjie is…. en natuurlik die ma!
Dr. Sieglinde Krüger, wat slegs 700 m buite Brits-dorp woon, het ‘n bielie van ‘n krokodil op haar plaasdam se wal gekry. “Brits… help gou asb…. Met al die reën saam het ons ‘n meneer van ‘n krokodil in ons plaasdam. Die einste plaasdam waar ons kinders nog twee dae terug in geswem en gespeel het,” het sy op Facebook geplaas. Sy was dringend op soek na iemand wat die krokodil kon vang en verskuif sonder om die dier seer te maak.
Nog ‘n aantal boere het kommetaar gelewer deur te sê dat krokodille nou volop in hul besproeiïngsdamme is.
‘n Inwoner van Zoutpansdrif sê dit is algemeen om krokodille in hul damme te sien. Ons is by die Krokodilrivier en daar is beslis heelwat krokodille in die rivier. “Gelukkig swem ons nie in dié damme nie!”
