Na die Covid-19-inperking die afgelope maande buurtwagte verhoed het om te patrolleer, is buurtwagte egter nou weer op die pad om die Hartbeesport-gemeenskap te beveilig. Die Ifafi/ Melodie- en Schoemansville-buurtwagte het reeds hul eerste gesamentlike operasie gedoen en buurtwaglede is reeds elke nag op die pad om misdaad te voorkom. “Ons wil die gemeenskap verseker dat ons terug is en weer daagliks na hul veiligheid omsien. ‘n Hele paar patrolleerders offer hul tyd en geld op om snags die verskillende gebiede te beveilig. Ons vra mense om by die buurtwagte in te skakel en te help met dié misdaadvoorkomingaksie,” sê Romano van der Spuy, voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum.
