Die CMR (Christelike Maarskaplike Raad)-welsynorganisasie benodig dringend die gemeenskappe in Hartbeespoort en Brits se hulp om hul welsyntaak te verrig.
Dié organisasie sien na die welsyn van kinders om en ondersteun op enige tyd sowat 300 gesinne in Hartbeespoort en Brits.
“Ons het werklik die gemeenskap se hulp nodig om hierdie belangrike diens te lewer,” sê Petro Fourie, bestuurder van Brits/Hartbeespoort CM. Daar is tans groot nood om ‘n voertuig vir die Hartbeespoort-welsynwerker te vind. “Ons is op soek na ‘n betroubare tweedehandse motor om haar in staat te stel om dié wye gebied se welsynbehoeftes te dek.”
Ander dringende behoeftes wat die CMR tans ondervind is fondse vir assesering van mishandelde kinders, sowel as skoolklere en -benodighede. Die gemeenskap word ook gevra om babadoeke, babamelk, kinderklere, komberse en nie-bederfbare kos te skenk wat tans dringend benodig word.
Enige skenking sal waardeer word.
Kontak Annemarie Scheepers in Brits by 072 233 2970 en Lizna Lucas in Hartbeespoort by 064 956 6770.