Daar stop ‘n kar voor die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) se kantoor en ‘n kind word saam met ‘n swart sak afgelaai en na die deur begelei voor die bestuurder weer vertrek.

“Hoekom wil my ma my nie hê nie?” vra die dogtertjie na sy deur die maatskaplike werkers in die kantoor tuisgemaak is.
Dié dinge gebeur regtig,” sê Petro Fourie, bestuurder van Brits/Hartbeespoort CMR wat na die welsyn van kinders in die omgewing omsien. “Kinders kom letterlik met hul besittings in ‘n inkopiesak by ons aan. Of die departement laat weet ons moet ‘n weggooibaba by die hospitaal gaan haal. Dan is dit rondspring om bottels, klere en melk, sowel as ‘n plek van veiligheid te kry om die baba te versorg. En die fondse daarvoor…”
Die CMR werk in vennootskap met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om kinders te beveilig en waar nodig in alternatiewe sorg te plaas. Plasing van kinders geskied met ’n hofbevel.
Die departement subsidieer minder as twee derdes van die salaris van ‘n sekere aantal maatskaplike werkers by CMR. Die res en alle dienste moet deur donasies en fondsinsamelingprojekte ingesamel word. “Ons het drie maatskaplike werkers in Brits en een in Hartbeespoort. Omdat daar nie genoeg fondse is nie, is Hartbeespoort se maatskaplike werker veronderstel om net halfdag te werk, maar sy werk baie langer ure omdat daar soveel nood in Hartbeespoort is.”
Lizna Lucas is onlangs as die maatskaplike werker in Hartbeespoort aangestel. “Daar is beslis ‘n behoefte aan meer maatskaplike werkers in dié gebied. Soveel kinders en gesinne benodig bystand, maar ons kan dit net doen met die gemeenskap se hulp, sê sy.
Volgens Petro is daar ongelukkig ‘n wanopvatting by sommige mense dat die CMR net kinders verwyder. “Die CMR verwyder nie kinders van hul ouers nie, maar beveilig kinders in alternatiewe sorg waar die hof dit aanbeveel. Die finale besluit rondom die plasing van enige kind berus by die Kinderhof. Enige betrokkenheid by enige gesin of kind het ernstige finansiële implikasies vir die CMR wat op donasies en fondsinsameling staatmaak.”
Die CMR se dienste is drieledig, naamlik, voorkomingsdienste, kinderbeskermingdienste en gesinsbewaring. “‘n Pad word saam met gesinne gestap en baie kinders word bygestaan met skoolklere, skoolfonds, mediese dienste ens,” sê sy. Ons grootste behoefte is om hierdie kinders by te staan en aan hulle onmiddelike behoeftes te voorsien en daarvoor het ons dringend die gemeenskap se hulp nodig.” Buiten die gesinne wat CMR ondersteun, is daar ook krisissituasies soos wanneer ’n kind net by die CMR se kantoor afgelaai word. Die kind benodig klere, toiletware, iets te ete en iets om die kind mee besig te hou (sagte speeelgoed) terwyl die maatskaplike werkers leidrade opvolg om ‘n plek van veiligheid vir die betrokke kind te kry.”
CMR spandeer gemiddeld sowat R6 000 per maand net aan babadoeke en babamelk. Daar is ook op enige tydstip tussen 250 en 300 gesinne in die Brits-Hartbeespoort-gebied wat jaarliks ondersteuning ontvang.
“Ons het werklik die gemeenskap se hulp nodig om hierdie belangrike diens te lewer. As 100 mense, byvoorbeeld, elk R100 maandeliks vir die CMR skenk, sal dit groot finansiële verligting bring wat baie monde sal voed en koue nagte warm maak,”sê sy.
Die dringende behoeftes behels:
• Versorgingspakkies vir kinders van verskillende ouderdomme wat in die CMR se sorg beland met klere, toiletware en ‘n item soos ‘n sagte speelding of iets waarmee hulle besig gehou kan word.
• Finansiële hulp en dienste ten opsigte van kinderbeskermingsake.
• Hulp van terapeute wat hulle diens gratis of teen ’n verminderde tarief beskikbaar stel.
• Speelgoed, sagte speelgoed, boublokkies, leesboekies vir kinders
• Betaal die maandelikse brandstof rekening of stel ’n voertuig beskikbaar op ‘n ‘leen-basis’ om by moeilike terreine uit te kom. (Die Hartbeespoort-kantoor leen tans ’n motor van ‘n ander CMR-kantoor).
• Finansiële bystand om die maatskaplike werker in Hartbeespoort voldag aan te stel.
Enige bydrae sal verwelkom word.
Help die CMR om na die welsyn van kinders in ons omgewing om te sien.
Kontak Petro Fourie by petrofourie@cmrn.co.za

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident