
Marlene Schoeman oorhandig die tjek aan een van Kuierkidz se eie dansers, Lourens Steynberg.
Hartbeespoort se eie Eisteddfod, Dance for Love, het vanjaar sy vierde verjaarsdag gevier tydens ‘n twee-dae lange geleentheid waartydens jong dansers hul talente in verskillende dansstyle kon tentoonstel.
Die Eisteddfod is deur Marlene Schoeman van Marlene Dance Academy en Izigi Rhythm Festivals gereël juis om dansers ‘n platform te gee om met hul verskillende dansstyle te spog, daarmee te kompeteer en om selfvertroue voor ‘n groot gehoor te kweek.
Alle winste tydens die Eisteddfod is aan die Kuierkidz Leersentrum geskenk. Dansers van verskeie dansskole het meegeding en 187 dansitems deur dansers van twee tot agttien is oor twee dae by die Skemerberg-venue in Hartbeespoort opgevoer.
“Ons medaljes, die oorhoofse wenner trofees, die beoordelaars se trofees, sertifikate, modelle se krone, beoordelaars se etes vir al twee dae en geskenke vir betrokkenes is alles geborg en geskenk vir ons, en ons is so dankbaar vir elkeen se bydrae,” sê Marlene. “Daar is so baie mense wat betrokke was en sonder hulle sou ons nie so groot kon gaan nie.”