
Leerders met die boeke wat deur die De Wildt Gemeenskapsbiblioteek geskenk is.
Die De Wildt Gemeenskapsbiblioteek het onlangs ‘n groot aantal boeke aan minderbevoorregte kinders by ‘n skool in Brits geskenk.
“Ons het ‘n versoek om hulp vir ou Afrikaanse en Engelse jeugverhale aan die Rock of Springs-skool in Brits ontvang waar ‘n klompie minderbevoorregte kinders skoolgaan. Weens omstandighede is daar min tot geen storieboeke wat die kinders kan lees om hulle taalvaardighede op te skerp nie. Baie van die kinders het slegs enkelouers en die kinders se ouderdomme wissel vanaf 10 jaar tot 18 jaar. Die skool ondervind ook ‘n groot behoefte aan Wiskunde- en Wetenskapboeke. In die tydperk wat die De Wildt Biblioteek bestaan het ons elke boek wat ontvang is, as ‘n skenking gekry. Hier is ook ‘n hele aantal skoolboeke wat geskenk is nadat die kinders klaargemaak het met hulle skoolloopbane. Onder hierdie skoolboeke was daar ‘n redelike groot hoeveelheid Wiskunde en Engelse boeke. Die besluit is geneem om hierdie boeke aan die skool te skenk. Dit sluit ook ensiklopedieë en woordeboeke in,” het Suzette Pëterson van die De Wildt Helpmekaar Maatskappy gesê.
Rock of Springs se hoërskool is deel van Rock of Springs College SA. Die skool het in 2016 geopen.