De Wildt poskantoor al drie maande toe omdat personeellid ‘siek’ is

Inwoners van De Wildt het die laaste drie maande nie hulle pos ontvang nie omdat die De Wildt poskantoor na ‘n gewapende roof in November verlede jaar gesluit is. Die rede wat glo aangevoer word is dat die werknemer in die poskantoor ‘siek’ is.

Desperate lede van die gemeenskap het na maande daarin geslaag om die Suid-Afrikaanse Poskantoor sover te kry om die afgelope drie maande se pos af te lewer. Dit is deur inwoners gesorteer en in posbusse geplaas.

“’n Groot deel van die De Wildt-gemeenskap bestaan uit bejaarde inwoners wat nie rekenaarvaardig is en van epos gebruik maak nie. Hulle is van die poskantoor afhanklik vir kommunikasie,” het ‘n inwoner gesê.
Kormorant het by die SA Poskantoor navraag oor die situasie gedoen en wag vir terugvoering.