Lize-Mari Strydom (11) en Sage.

Lize-Mari Strydom (11) en Sage.

‘n Windhond het die afgelope maand ‘n 11-jarige diabeteslyertjie van Hartbeespoort se lewe verander. Lize-Mari Strydom en haar diabetiese dienshond, Sage, is vir die laaste drie weke onafskeidbaar. Sage sorg dat Lize-Mari se suikervlakke onder beheer bly en waarsku blitsvinnig as iets fout is.
“Ek is klaar baie lief vir haar. Sy is altyd by my, sy slaap saam met my op die bed en ek hou van haar goofiness,” glimlag Lize-Mari.
Lize-Mari se ma, Letitia, het na Lize-Mari se diagnose intense navorsing oor diabetes begin doen. ” Lize-Mari, is in Augustus 2022 met Tipe 1 diabetes gediagnoseer. Dit het ons almal se lewens, maar veral hare omver gegooi. Sy sukkel maar om dit te aanvaar en te bestuur. So met die navorsing het ek op die organisasie, Honey’s Garden, afgekom. Die organisasie lei honde op om diabeteslyers te help om die siekte te bestuur,” vertel sy.
By navraag moes die gesin egter hoor dat so ‘n hond tot R100 000 kon kos. “Dit was buite ons bereik, en ons het vir eers daarvan vergeet. Maar toe, uit die bloute, kontak Honey’s Garden ons ‘n paar maande gelede en deel ons mee dat hulle ‘n hond het wat by ‘n ander dogtertjie was en wat nou beskikbaar is. Dit was ongelooflik. Alles het net in plek geval.”
Die gesin is onmiddellik Kaap toe om die vierjarige Sage te ontmoet en saam met haar opleiding te doen. Hulle het in September met haar na Hartbeespoort teruggekeer.
Vir Lize-Mari en Sage was dit liefde met die eerste oogopslag. Met haar baie sterk reuksintuig, ruik Sage onmiddellik as Lize-Marie se bloedsuikerlesings laag is en waarsku haar met ‘n spesifieke liggaamsposisie en ‘n sekere soort tjank. “Dit is gevaarlik as haar bloedsuiker val want sy kan in ‘n koma ingaan,” sê Letitia.
Hoewel Sage as ‘n diabetiese dienshond “gegradueer” het, moet sy steeds deurlopend opgelei word om Lize-Mari te leer ken en haar reuk te leer. Lize-Mari is dus deurentyd besig om haar deur speel en ander metodes op te lei.
“Sage het Lize-Mari se lewe verander. Sy ontvang terapie want vir ‘n jong kind is so ‘n diagnose ‘n groot skok. Sage is beter terapie as enigiets anders. Sy is nou Lize-Mari se konstante metgesel en vertroosting.”
Sage vergesel Lize-Mari oral en slaap saam met haar in die bed. Die gesin het egter besluit om Sage voorlopig nie saam met Lize-Mari skool toe te stuur nie. Sy vergesel haar egter na die buitemuurse aktiwiteite soos netbal, sagtebal en was verlede week saam na Lize-Mari se danskampioenskappe.
Sy het die gesin reeds ‘n paar keer gewaarsku. Sy is opgelei om vir Lize-Mari, sowel as Letitia, te waarsku. “Sy het my byvoorbeeld een nag kom wakker maak toe Lize-Mari se bloedsuiker in die nag geval het en sy haar nie kon wakker kry nie. Sy is ‘n seën.”
Die gesin wil graag die gemeenskap bewus maak van dienshonde en veral Lize-Mari se Sage. “Ons ondervind, soos Honey’s Garden ons voorberei het, dat weens gebrekkige kennis van dienshonde, mense soms geneig is om negatief te reageer. Ons doen al ons inkopies en kuiers in Hartbeespoort en ons wil die gemeenskap inlig oor Sage wat nou oral saam met ons beweeg, asook hoe om teenoor so ‘n dienshond op te tree,” sê Letitia.
Wanneer Sage in die publiek uitgaan, sal sy haar dienshond-jassie dra, wat aandui dat sy besig is om haar werk te doen. Dan mag die publiek nie aan haar raak nie aangesien dit haar aandag van haar belangrike taak kan aftrek. As die jassie af is, dan is Sage ‘n gewone, energieke hond wat saam met die gesin se ander honde en Lize-Mari speel.
“Dienshonde verrig so ‘n wonderlike diens en ons wil die Hartbeespoort-gemeenskap hiervan bewus maak.”
As lede van die publiek die dogtertjie en haar hond in die winkel raakloop, maak gerus kennis. Maar onthou… moenie vat as Sage haar uniform dra nie!

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident