Die lewe is ‘n pannekoek

“Glo dit of nie, maar na al die jare is dit vir my lekker om pannekoek te maak. En Hartbeespoort se mense maak dit vir my nog lekkerder.”

Chris Pretorius

Aan die woord is Chris Pretorius (65) wat die afgelope dekade daagliks by Superspar Sediba Plaza pannekoek verkoop en hy kan nie aan ‘n lekkerder werk dink nie. “Ek hou van mense en Hartbeespoort se mense is vir my baie kosbaar en belangrik. En as dit nie vir al die mammas en kinders was nie, het ek seker lankal geloop,” lag hy.

Chris, voorheen ‘n boukontrakteur van beroep, se pannekoek-pad het meer as 20 jaar gelede begin toe hy uit pure verveling pannekoek begin bak het tydens kontrakwerk in KwaZulu-Natal. “Gedurende die week was ek besig,maar naweke het ek niks gehad om te doen nie. Die idee om pannekoek by winkels en sommer ‘n ekstra inkomste te verdien, het by my opgekom en ek het die eerste pannekoeke getakel. Ek het hulle op my medewerkers getoets. Daar was baie gelag… en gehuil,” lag hy.

Terug by sy huis in Pretoria, het hy ‘n nuwe tuiste vir sy pannekoeke begin soek en naweke by ‘n plaaslike winkelsentrum begin verkoop. “Toe die Spar winkel by die sentrum toemaak, het die bestuurder gevra hoekom ek nie by die nuwe winkel in Hartbeespoort kom probeer nie. Ek het deur die week gewerk en naweke hierheen gery. Hartbeespoort se mense het my so goed ontvang, ek het besluit om my werk as boukontrakteur te staak en het na Hartbeespoort verhuis om voltyds pannekoek te verkoop. En die pannekoeke was goed vir my, hulle het vir my dogter se drie universiteitsgrade betaal,” skerts hy. “Ek was nog nie ‘n oomblik spyt nie, dit is ‘n wonderlike omgewing met wonderlike mense.” Hy het vier dames wat hom help bak en uithelp by sy tweede stalletjie by Dreiers. Sy pannekoekstalletjie is ook ‘n bekende gesig by byeenkomste.

Sy pannekoekresep is ‘n geheim wat hy nie deel nie. “Baie mense vra my, en al wat ek kan sê is as ek die pannekoek oorhandig, is daar tien bestanddele,” knipoog Chris.