
De Wildt se Pronkertjieboer Lood Schoeman
Die eerste sensasie as jy uit jou kar klim op Lood Schoeman se plaas in De Wildt is die soet, heerlike geur van Pronkertjies. En dan die mengelmoes kleur van dié gewilde blomme wat meer as twee meter teen die blou lug rank. Klein voëltjies en skoenlappers fladder oral in die ranke rond.
Vir Lood is dit die gesig wat hom elke dag begroet. “Na soveel jare in die boerdery ruik ek nie meer die blomme nie,” glimlag hy waar hy bossies blomme sny wat later die dag na die blommemark in Johannesburg vervoer moet word. Hoewel Pronkertjies steeds een van die gewildste blomme is, is daar min boere oor wat nog dié vrolike en welriekende blomme groei.
“Ons is maar vier of vyf boere waarvan ek weet wat nog met Pronkertjies boer. My oupa Schoeman was van die eerste boere wat Pronkertjies in die 1930s aangeplant het. My pa het met die boerdery voortgegaan en nou ek. Ek dink die rede hoekom so min boere deesdae nog Pronkertjies kweek kan toegeskryf word aan verkeerde saad wat aangeplant word,” sê hy.
Vroeër jare is die blomme by die Pretoria Mark en die Johannesburg Mark verkoop, maar deesdae word Pronkertjies deur Multiflora by City Deep bemark. “Daar is ‘n skaarste aan Pronkertjies, maar blomme betaal ongelukkig nie meer goed nie. Die kleinboere kry maar swaar. Dit kan ook die rede wees hoekom daar so min Pronkertjieboere is.”
En om Pronkertjies te groei is nie net ‘n kwessie van saad in die grond druk en wag nie. “Dit is arbeidintensief. Vroeër jare is groot vore getrek wat dam met kompos, beesmis en gas gevul en natgelei is. Tans word die saad direk in die grond geplant en besproeiing kan met druppers, mikrobesproeiing of natleiding gedoen word. Pronkertjies moet opgelei word. Dit is nie ‘n plant wat net gelos kan word om te blom nie.”
Lood het sowat drie hektaar onder blomme. Hy kweek ook Pronkridderspoor. “Ek vervoer drie keer per week sowat 30 emmers blomme na die mark. Die plante word behandel om langer te hou, maar ek gaan nie my geheime verraai nie.”
Lood saai Pronkertjies einde Februarie. Die plante word tot twee meter opgelei soos dit groei. “Dit is ‘n deurlopende proses en verg intensiewe arbeid.” Die plante begin in Mei blom en die kleurskouspel duur tot einde Augustus. “En in September, word alles uitgetrek en ons begin van voor af.”
Raad vir diegene wat Pronkertjies wil plant: Die plant het ‘n hoë Kalium-behoefte en kan met 2:3:4-kompos geplant word.
Pronkertjies is inheems in Italië waar dit wild groei.