“Dis lekker om te help”

Op 73 is daar steeds geen keer aan Romano van der Spuy se passie vir mense en om ‘n verskil te maak in die gemeenkap nie.

Hy hou daarvan om te help en te weet dat sy toewyding as voorsitter van die Hartbeespoort gemeenskapspolisiëringsforum die afgelope nege jaar ‘n bydrae lewer om Hartbeespoort se mense te beveilig.

“Ja, dit kos baie toewyding, opoffering, lang ure en min slaap, maar dit is lekker om resultate te sien en die inwoners se dankbaarheid. Sekuriteit is vandag alles in Suid-Afrika. Daarsonder is niemand veilig nie,” sê hy.

“Dit is hoekom dit so belangrik is dat almal by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke moet raak. Of maak ten minste ‘n bydrae sodat dié wat nag na nag slaap en tyd opgee by te staan.”

En sy selfoonnommer is seker die bekendste nommer in Hartbeespoort. “Ek kry ‘n gemiddeld van 40 oproepe per dag… en nag,” lag hy. “En nie net oor misdaad nie. Sommer as die krag af is, of ‘n waterpyp het gebars… die probleem met tegnologie vandag is dat jy oral toeganklik is. Ek was onlangs vir ‘n paar weke in die Kaap en moes misdaadverslae vandaar stuur.”

Romano was in 2008 die stigter van die buurtwagte in sektor 1 in Hartbeespoort wat Schoemansville, Meerhof, Melodie, Ifafi en Plotwag insluit. “Almal is nog operasioneel en dit maak ‘n noemenswaardige verskil as mens die huidige misdaad met die voor 2008 vergelyk. Dit is ook deel van die GPF se werk in die gemeenskap om ‘n goeie verhouding met die polisie te bevorder. Ons het ‘n baie goeie verhouding met die polisie en dit is tot voordeel van die gemeenskap.”

Romano het in 2007 na Hartbeespoort verhuis na hy vir 25 jaar ‘n gastehuis net buite die dorp bedryf het. Hy was ook die voorsitter van die Pretoria Afrikaanse Sakekamer se toerisme-sakegroep en terselfdertyd voorsitter van die Hartbeespoort toerismekomitee.

Hy is met die bekende skrywer, Carla van der Spuy getroud en hulle woon in ‘n sekuriteitskompleks in Melodie waar Romano ontspan deur tuin te maak wanneer hy tyd kry.

“Ek het ‘n passie vir die natuur, bome en voëls en as ek kans kry, vlug ek Bosveld toe ten minste een keer per maand. As mens deurentyd met misdaad en trauma te doen het, moet jy gereeld afstand kry en jou kop skoonmaak, anders sal dit jou tot depressie dryf.” Hy is ‘n entoesiastiese voël- en boomkenner en bring ure in die natuur deur om voëls en bome te identifiseer. “Dit is kos vir my siel.”

Sy ander passie is Formule 1-wedrenne. “Ek mis nie een nie en ek is ‘n vurige Ferrari-ondersteuner. En natuurlik die Bloubulle en Springbokke!”

Dit is min dat iemand van sy ouderdom nog soveel opofferings maak en bydra tot ‘n gemeenskap se welstand. “Ek dink nie mense besef hoeveel ure en watter opofferings dit van buurtwaglede eis om inwoners veilig te laat slaap nie. En jy word so te sê die gemeenskap se persoonlike besit. Dit is nie snaaks om 03:00 in die oggend ‘n oproep te kry van iemand wat vermoed dat daar ‘n oortreder op hul perseel is, of om te kla dat die polisie nog nie op ‘n misdaadtoneel is, of dat honde blaf… dit is deel van die ‘job.”

En wat is nog op sy emmerskoplys? “Dat die Here my nog ‘n paar jaar spaar om voort te gaan met wat ek doen en my kop en lyf gesond hou. Ek is nog op-en-wakker en fiks, sonder pyne en skete, en neem geen medikasie nie. Ek skryf dit toe aan my besige lewenswyse en ‘n passie vir die lewe. En natuurlik is ‘n wildsplasie in die Waterberge nie te versmaai nie!”