Dit gaan goed met brawe klein Clarissa

“Dit gaan baie goed met Clarissa. Sy is so ‘n sprankelende kleinding. Ons weet daar lê moeilike tye voor, maar sy is ‘n regte klein vegtertjie.”
So het die elfjarige Clarissa van Staden, wat haar arm twee weke gelede in ‘n motorbootongeluk op die Hartbeespoortdam veloor het, se pa dié week aan Kormorant gesê.
“Sy is ‘n merkwaardige kind.”


Clarissa, ‘n leerder by die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman, was Saterdag, 15 Februarie, saam met haar ouers, JJ en Rene, boetie Juvan (5) en ‘n elfjarige vriend in die gesin se motorboot op die dam toe die boot ‘n stomp onder die water getref het. Almal behalwe Juvan is uit die boot geslinger en Clarissa se arm het die bootskroef getref. Terwyl die gesin op mediese hulp gewag het, is daar na die arm gesoek, maar dit kon nie gevind word nie.
Clarissa is in ‘n kritieke toestand per lugambulans na ‘n hospitaal gevlieg waar sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.
Sy is die daaropvolgende dag en weer verlede Donderdag geopereer.
“Clarissa onthou alles wat gebeur het en sy praat daaroor … dat sy uit die boot gegooi is en dat ek haar uit die water gehaal het.” Die vriendelike dogtertjie het dié week in ‘n video op Facebook lede van die publiek bedank vir hul goeie wense, bystand en gebede.
Clarissa het haar dominante linkerarm verloor. Sy sal nou van voor af moet leer om alles met die regterarm en -hand te doen.
‘n Voorlopige kosteberaming vir ‘n prostetiese arm beloop minstens R300 000 en die gesin benodig alle moontlike hulp sodat Clarissa weer ‘n normale lewe kan lei.
Mense wat graag wil bydra tot die fondinsameling vir Clarissa se nuwe arm, kan donasies in die volgende rekening betaal:
Rekening: Clarisa Van Staden, Nedbank lopende rekening 1201603153, takkode 198765.
‘n Pretloop om fondse vir Clarissa in te samel word op 7 Maart by The Farmstead (langs The Coves) op die R512 in Broederstroom gehou. Kom neem deel in die 5 km of 10 km wedren en dra by tot Clarissa se nuwe arm.
Vir meer inligting kontak Devon by 066 227 8933.