“Dit laat my goed voel om te gee sonder dat daar daarvoor gevra word. Gee is onvoorwaardelik en mens moet nie erkenning verwag nie.”

Yani Willemse (17)

Yani Willemse, ‘n Graad 11-leerder by Hartbeespoort is vanjaar as president van die skool se Rotary Interact-klub verkies en sy werk volstoom om meer lede te werf.

“Ek behoort al vier jaar aan die Interact-klub en dit is vir my ‘n groot eer dat die groep my as die leier gekies het,” sê sy.

“Ek het aanvanklik betrokke geraak omdat ek wou deel wees van ‘n gemeenskapsprojek wat teruggee aan dié wat dit nodig het. Dit is ‘n lekker gevoel om te gee en ‘n verskil in iemand se lewe te maak.

Die Interact-klub by dié skool konsentreer op gemeenskapswerk by ouetehuise, kinderhuise en HAWS. “My gunstelinge is die dierewelsynprojekte en kinders. Daar is soveel behoefte en dit is uiters bevredigend om te help om die nood te verlig.”

Die klub is tans 30 sterk en Yani werk daaraan om meer leerders betrokke te kry. “Ek sal beslis na skool by Rotary betrokke bly. Dit is lekker om ander te help en gemeenskapsdiens behoort deel van elkeen se lewe te wees. Dit is soms die kleinste goedjies wat n groot verskil kan maak en as elkeen ‘n bietjie doen, kan baie verrig word.”

Yani is een van drie kinders en beplan om na skool B Com bemarking of -bedryf te studeer. “Ek werk hard akademies, maar ek speel ook hokkie en die Interact-klub hou my besig. My passie is diere en kinders en ek sal voortgaan om my deel te gee.”

Also Read:

  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident
  • Categories: Crime, News
    Hartbeespoort man shoots mother and daughter
  • Categories: News
    Refentse residents again drowning in sewage