Die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van Solomon (Solly) Nengwane, ‘n polisie-informant wat in aanhouding dood is, is Maandag in die Brits Landdroshof tot Oktober uitgestel. Verskeie polisiebeamptes word by sy dood geïmpliseer.
Nengwane is in 2006 die Mmakau polisiekantoor in aanhouding dood en na 17 jaar is niemand nog vir sy dood vervolg nie.
Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op. Die persone van belang is sewe senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is. Een van die persone is maj-genl Jan Mabula, die destydse omstrede Noordwes adjunk-polisiekommissaris.
Die uitstel volg omdat ’n nuwe landdros die GDO gaan waarneem en omdat luitenant-kolonel Isaac Thlape, een van die persone van belang, op 13 Februarie 2022 in ’n motorongeluk oorlede is. Thlape was ’n luitenant-kolonel by die Brits-polisiestasie.
Nengwane is een van vyf persone wat destyds daarvan beskuldig is dat hulle miljoene Amerikaanse dollar van ’n Benoni-polisiestasie gesteel het. Dié geld is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het onder verdagte omstandighede verdwyn.
Die sewe persone van belang in die ondersoek was destyds deel van die taakspan wat saamgestel is om die saak te ondersoek. Verskeie getuies in hierdie saak het volgens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn, het Afriforum gesê.
“Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari Hospitaal geneem het en dat hy reeds geruime tyd oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.
In 2018 het die Suid-Gauteng Direkteur van Openbare Vervolging besluit dat 10 polisie-offisiere vervolg moet word, maar daar het niks van gekom nie.
Slegs vyf van die sewe polisiebeamptes wat persone van belang is, het in September 2021 in die hof verskyn, ondanks die feit dat hulle almal gedagvaar is om teenwoordig te wees en ook op ’n vorige hofdatum versuim het om op te daag. Nel het geargumenteer dat die twee afwesige persone (genl-maj Ntebo Jan Mabula en kol Ishmail Dawood) tegnies gearresteer moet word, maar aangevoer dat die lasbriewe vir hul arrestasie oorgehou moet word tot Februarie 2022 wanneer die geregtelike doodsondersoek begin.