Die geregtelike doodsondersoek van Solomon (Solly) Nengwane , wat in 2006 in polisie-aanhouding dood is, is Dinsdag nogmaals in die Brits-landdroshof tot volgende jaar uitgestel.

Die sewe persone van belang in die doodondersoek is almal lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en sluit in die voormalige Noordwes-polisiekommissaris, Generaal-majoor Jan Ntebo Mabula. Hul prokureur het aan die hof gesê ondanks verpligtinge van die kantoor van die staatsprokureur om die regskoste te betaal, was dié betalings sporadies, wat kommer oor toekomstige finansiële verpligtinge laat ontstaan het. Hy het hom daartoe verbind om die kantoor te betrek om finaliteit te kry en in Januarie aan die hof terug te rapporteer.
Die hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, adv Gerrie Nel, het aangevoer dat ’n uitstel tot volgende jaar eenvoudig onaanvaarbaar is. “Wat vir die hof vertel word, is dat niemand weet wanneer hierdie saak sal voortgaan nie. Ons kan in Januarie terugkom, en weer is daar onsekerheid van die kantoor van die staatsprokureur. En ons sal in dieselfde posisie wees,” het hy gesê.
Die privaatvervolgingseenheid hoop nou dat die persone van belang hul befondsingkwessie teen Januarie sal uitsorteer sodat ’n datum vasgestel kan word vir die geregtelike doodsondersoek om voort te gaan.
Nengwane se familie het AfriForum se privaatvervolgingseenheid om bystand genader omdat niemand ná 17 jaar vir sy dood verantwoordelik gehou is nie. Nengwane was een van vyf mense wat in 2006 in hegtenis geneem en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollars en dwelms by ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die sewe mense van belang in die geregtelike ondersoek was deel van die taakspan wat die saak ondersoek het. Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en volgens mediaberigte het verskeie getuies in die saak onder verdagte omstandighede verdwyn. Nengwane is op 6 Junie 2006 dood nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die amptelike weergawe is dat die polisie Nengwane na die Dr. George Mukhari- akademiese hospitaal geneem het en dat hy reeds dood is toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal agtergelaat.