
‘n De Wildt-gesin moes Saterdag en Sondag spook om ‘n veearts in die hande te kry om na hul troeteldonkie oënskynlik uit ‘lockdown’ wou spring en sy maag oopgeskeur het.
Die Van der Walt-gesin se vierjarige donkie, Japie, het laat Saterdagmiddag tydens ‘n gespelery met die honde oor ‘n versperring in die erf gespring en sy maag oopgesny. “Ons het gesien hoe hy skielik rondhardloop en toe is dit net bloed. Daar was ‘n reuse sny van sowat 40 cm op sy maag tot by sy voorbeen. Ek het my doodgeskrik,” sê Christa van der Walt
Nodeloos om te sê Japie was verskrik en die gesin kon nie naby hom kom nie. “Ek het begin soek na ‘n veearts wat na die plaas sal uitkom om vir Japie te help, maar geen van die plaaslike veaartse wat ek gebel het was beskikbaar om uit te kom nie. Ons is aangeraai om Japie Onderstepoort toe te vat, maar ons het nie ‘n perdesleepwa nie en Onderstepoort se fone het net gelui.”
Toe Japie ‘n hele ruk later iewat bedaar het, kon Christa en haar gesin met ‘n gesukkel dit regkry om ‘n handdoek om sy skof te bind om die bloeding te probeer keer. “Ek kon Saterdagnag nie slaap nie. Ek het nie gedink Japie gaan dit maak nie. Ek was doodbekommerd oor hom. Hy is net soos ons honde in die huis.”
Vroeg Sondagoggend het Christa se soektog na ‘n veearts voortgegaan. “Ek het op elke moontlike sosiale mediaplatform vir hulp en raad gevra en op aanbevelings veeartse in ander gebiede begin bel. En toe kom ek uiteindelik laat Sondag by die Pyramid Dierekliniek anderkant Bon Accord uit en ‘n vriendelike vroue-veearts stem in om vir Japie te kom help.”
Dr Shannon Sparrow van die dierekliniek het kort daarna opgedaag en almal op die plaas moes rondspring om Japie te vang. “Dis nie maklik om ‘n donkie te vang wat nie gevang wil word nie. Glo my, hy het vyf mense lelik laat rondhardloop voor ons hom uiteindelik kon vaskeer.”
Dokter Sparrow het Japie ‘n kalmeermiddel ingegee en die wond behandel en steke ingesit. “Dit was nie maklik nie. Ons moes vashou. Soos sy gesê het, dit was nou nie ‘n kosmetiese operasie nie, maar die wond is toe. En die girls sal nog steeds van Japie hou want hy het ‘n mooi gesiggie!”
Teen Maandag was Japie al byna weer himself en het vroegoggend reeds die haan op die werf rondgejaag.
“Japie is ‘n troeteldier wat glad nie skaam is om homself uit die vrugtebak in die huis te kom help nie, en hy speel heerlik saam met die honde. Ons is almal net so dankbaar hy het hulp gekry. Ek wil ‘n groot dankie sê vir dr Shannon en die dierekliniek en die hele gemeenskap wat saam met ons na hulp vir Japie gesoek het. Ons waardeer dit verskriklik baie. En Japie ‘smile’ ook al amper weer.”