‘n Eenjarige seuntjie van De Wildt, wat Vrydagmiddag byna in ‘n dam verdrink het, is steeds in die intensiewesorgeenheid, maar dit gaan goed met hom, sê sy ma.

Klein Ruvan Janse van Rensburg (1) dié week in die hospitaal.

Klein Ruvan Janse van Rensburg het Vrydagmiddag in ‘n klein dammetjie by ‘n reservaat in die omgewing geval en was bewusteloos toe sy pa, Hendrik (35) hom kort daarna uit die water gehaal het.

Hendrik en Frans-Cheany, Ruvan se ma, is Vrydagmiddag na die reservaat om hul ander twee kinders, Nathan (9) en Lucinda (7) by ‘n inwoner te gaan haal saam met wie hulle ‘n geleentheid vanaf die skool kry.

“Ons het gestaan en gesels en Ruvan was saam met Nathan wat op sy fiets by ons rondgery het. Toe Nathan ‘n rukkie later alleen by ons aankom, het ons dadelik begin soek. Hendrik het eerste na die swembad gehardloop en toe hy terugkom, het hy Ruvan in die dammetjie, wat kniediep is, gesien,” het Frans-Chenay gesê.

“Ruvan het op sy sy aan die kant van die dam in die water gelê en Hendrik het hom uitgehaal. Hy het dadelik noodhulp begin toepas en is deur die eienaar van die reservaat en nog ‘n lid van die gemeenskap, wat ‘n paramedikus is, gehelp. Kort daarna het Ruvan weer begin aasemhaal, maar hy was steeds bewusteloos.”

Die gesin tydens Ruvan se eerste verjaarsdag in Augustus,

Hendrik het met Ruvan na die hospitaal begin ry en die paramedici van Hartbeespoort Emergency Medical Service (HEMS) het hulle op pad ontmoet. Klein Ruvan is na Brits Mediclinic geneem vanwaar hy later na die Chris Hani Hospitaal oorgeplaas is.

“Dit is net baie erg dat ons hom nog nie weer kon sien nie. Ons moet staatmaak op wat die mediese personeel vir ons sê. ‘n Gawe verpleegster het darem vir my Dinsdagoggend ‘n foto van hom gestuur. Hy is nou van die ventilator af, maar kry nog suurstof. Daar is breinskanderings gedoen en die dokters sê daar is geen breinskade nie. Dit is nou net sy longetjies wat gemonitor word,” het Frans-Cheany gesê. “Dit is net baie erg om nie by ons kind te kan wees of hom net te sien nie. Ons was so dankbaar vir die foto. My man sukkel baie om dit te verwerk. Ons wil almal bedank wat ons daardie dag gehelp het en die paramedici wat besluit het hy moet per noodhelikopter na ‘n ander hospitaal gevlieg word. Ons kan nie wag dat hy huis toe kom nie.”

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident