
Dis nie maklik nie, maar Thys het nie opgegee nie.
“Ek het nog nie hoop verloor nie. Ek gee nie op nie…” sê Thys Streicher (49), oftewel Thys die Bosveldklong, waar hy in sy rystoel op ‘n plasie in De Wildt sit.
“Ek is konstant in pyn en kan nie lank lê of sit nie. Dis nie maklik nie, maar ons wag nou vir uitslae van skanderings om te bepaal wat die volgende stappe is,” sê hy in ‘n sagte stem.
Dié gewilde musikant is in 2019 met veelvuldige sklerose gediagnoseer na hy vir vier jaar simptome geïgnoreer het. “Ek het elke nou en dan gevoel in my bene verloor. Op ‘n dag het ‘n vriend gesê nou vat ek jou dokter toe. Hulle sê nie vir ‘n mens waarvoor hulle toets nie en toe die uitslag terugkom het ek nie geweet wat veelvuldige sklerose was nie. Dit was aanvanklik soos ‘n doodsvonnis, maar ek het myself weer reggeruk.” Veelvuldige sklerose is ‘n ongeneeslike siekte waartydens senuweeskade die kommunikasie tussen die brein en rugmurg aantas.
Van die energieke Thys die Bosveldklong wat gehore laat dans en lag het, is tans weinig oor. “Ek vra by voorbaat om verskoning as ek skielik moet gaan lê tydens die onderhoud,” sê hy.
Thys het aanvanklik met ‘n ‘walker’ geloop, maar deesdae is hy in ‘n rolstoel. Boonop het hy sowat ‘n maand gelede ‘n ‘angsaanval’ gehad wat hom vir drie weke in die hospitaal laat beland het. “Dit is nie jou tipiese angsaanval wat deur emosies veroorsaak word nie, dit is die gevolg van die veelvuldige sklerose,” verduidelik sy ma, Elise (73), wat van die Paarl af hierheen getrek het om hom te versorg.
Daar is nuwe toetse in die hospitaal gedoen en hulle wag nou op die uitslae wat die einde November gereed sal wees. Thys het nie ‘n mediese fonds nie en is afhanklik van staatshospitale waar hy sy beurt moet afwag.
“Sedert die aanval het ek die gebruik van my linkerbeen verloor. Ek moet fisio en die regte medikasie kry, maar dis baie duur en ek het nie geld nie,” sê hy.
Die gemeenskapspolisiëringsforum in die omgewing het van sy behoefte te hore gekom en besluit om saam met hul jaareindfunksie op 25 November, vir Thys ‘n fondsinsameling te hou. Tydens die geleentheid sal ‘n spesiale 5l bottel ‘Thys die Bosveldklong’-wyn en die getekende kitaar wat hy op sy Australiese toer gebruik het, opgeveil word. Thys sal ook tydens die geleentheid optree. Hy kan dalk nie meer op die verhoog ronddans nie, maar daar is niks met sy stem en kitaarspel verkeerd nie. Die gemeenskap en aanhangers word uitgenooi om ‘n piekniekmandjie te pak en die dag saam met Thys in die buitelug te kom geniet. Daar sal ook DVDs en geheuestokkies met sy musiek verkoop word.
“Mense moenie dink hy is weg nie. Hy is nog hier en hy kan nog optree. Hy is ook ‘n afslaer en MC en doen nog optredes. En hy het die inkomste broodnodig vir sy mediese behandeling,” sê Elise. Tans ontvang hulle net SASSA-inkomste. Daar word juis ook gesoek vir ‘n borg vir ‘n voltydse oppasser wat na Thys se behoeftes kan omsien.
“Ek bly op my knieë,” sê Elize.
“Ek hoop nog. Met die regte mediese behandeling sal dit beter gaan, maar ek het nie meer geld nie. Al wat ons kan doen is hoop en glo dat daar iets sal gebeur,” sê hy. ‘n Inskrywing op sy Facebook-blad ‘n paar maande gelede lees: “Help nog hierdie keer, Vader?”
Mense wat belangstel om die fondsinsamelingsgeleentheid by te woon, of donasies wil skenk, kan Elna by 082 950 0603 kontak.
•Thys het vroeër vanjaar die Afr-Indie-musiekprys vir sy nuutste enkelsnit ‘Blommetjie Blom’ in die Beste Pop-kategorie gewen.
Hy is ook in 2022 vir sy lewenslange bydrae tot musiek deur Afr-Indie vereer.

Die energieke Bosveldklong soos gehore hom onthou.