Na vyf maande in Japan kan Christiaan Burger (16) al ‘n basiese gesprek in Japanees voer, twee Japanese alfabette lees en skryf, en is hy gewoond aan baie rys. Maar hy mis Afrikaans… en braaivleis!

Christiaan, ‘n leerder van Hoërskool Hartbeespoort tot vanjaar, het in Maart sak en pak Japan toe verhuis waar hy vir die volgende twee jaar sal skoolgaan en sy skoolloopbaan voltooi. En hy geniet elke oomblik.
“Dit is ‘n ongelooflike ondervinding. Ek studeer saam met leerders van 92 verskillende lande en die blootstelling aan soveel verskillende kulture is wonderlik,” sê hy.
Christiaan het in 2020 by ‘n vriendin gehoor van die United World College ISAK Japan-skool in die bergagtige dorpie Karuizawa sowat ‘n uur vanaf Tokio.
“Ek het gedink, hoekom nie, en aansoek gedoen. Ek was eintlik ‘n jaar te jonk vir die program en het nie veel hoop gehad nie.” Groot was sy verbasing toe hy in Maart 2021 in kennis gestel word dat hy ‘n volle beurs gekry het om vir drie jaar by die gesogte skool te studeer. “Ek was baie verbaas. Ek was die jongste applikant wat ooit toegelaat is. Ek was baie bly.”
Christiaan het in Maart vanjaar sy skoolsak gepak en is Japan toe om sy skoolloopbaan daar te voltooi. “Die kirrikulum is baie soos dié van Cambridge. Dit is ‘n bekende kwalifikasie en daarmee sal ek by enige universiteit in die wêreld kan studeer. Ek geniet dit vreeslik en is nie een oomblik spyt ek het dit gedoen nie.”
Oor die Japanese kultuur is hy gaande. “Ek het nog nooit sulke dissipline en gawe mense teëgekom nie. Almal is so gaaf.”
Die studente woon almal saam in die klein dorpie. “Dit is so interressant tussen die verskillende kulture en agtergronde. Almal dink anders in dieselfde omgewing.”
Christiaan woon skool by van 08:00 tot 15:00 en die skool lê sterk klem op klubs en aktiwiteite soos debat en sekere sportsoorte vir naskoolse aktiwiteite. “Naweke mag ons vir twee aande Tokio toe gaan waar ons die stad en die Japanese kultuur verken. Daar is geweldig baie om te doen.”
En die kos? “Ons word blootgestel aan geregte van regoor die wêreld. Dit is verbasend lekker. Ons kry baie rys… Ek mis braaivleis,” lag hy.
“Dinge is duur in Japan en mens kry nie maklik vrugte nie, en as jy kry is dit baie duur.”
Wat mis hy die meeste van Suid-Afrika? “Afrikaans!”
Wanneer hy oor twee jaar sy studies voltooi, wil hy politieke wetenskappe en internasionale besigheidstudies by ‘n Europese universiteit studeer. “Dit is ‘n groot voorreg om hier te wees en ek is baie dankbaar. Natuurlik mis ek my familie, en ek hoop hulle mis my darem ook!”