Hartbeespoort se bekende musiekonderwyser, Elzabe Spies (78), en skoondogter, Carla, het pas teruggekeer van Spanje waar hulle die Portugese ‘Coastal Camino’ gestap het.

“Dit was heerlik! Ons het 128km oor ses dae gestap. Dit is die tweede keer dat ek dié Camino stap. In 2008 het ons ’n vol rugsak gedra, maar hierdie keer is ons bagasie vervoer en hoef ons net ons dagrugsakkie te dra. Hierin dra jy jou reënbaadjie, warm baadjie, medisynesakkie, peuselgoed, middagete en ten minste 2 liter water en ’n vrug of twee,” sê Elzabe.
Dié fikse 78-jarige het ‘n passie vir stap, en net wanneer sy kan, durf sy wêreldwyd die stofpaaie aan.
“Ons is per bus vervoer vanaf Santiago na die pragtige kusdorp Biona vanwaar ons begin stap het, net Noord van die Portugese grens. Luister net na die plekke wat vir ons gewag het… dis soos musiek in jou ore: Biona, Vigo, Redondela, Pontevedra, Caldas de Reis, Padron en uiteindelik Santiago de Compostela!
Die hele Spaanse Camino is ongeveer 1 000 km lank en kan van agt verskillende rigtings gestap word, maar almal eindig in die stad Santiago de Compostela wat in die Galicia-provinsie (Noordwes-Spanje) geleë is. Daar is elke dag twee kerkdienste in die massiewe katedraal. Al die “Peregrino’s” wat klaar gestap het kom daar bymekaar vir ’n Katolieke Mis in Spaans met pragtige orrelmusiek.”
“Die eerste paar dae is gekenmerk deur baie steil bulte, op en af. Afstande per dag het gewissel tussen 21 – 28 km. Een dag het ons net 14km gestap en dit het soos ‘n vakansie gevoel,” lag sy.
“Aan die einde van elke roete kry jy ’n sertifikaat as jy ten minste 100 km gestap het. Jy het ook n “Pelgrimspaspoort” waarin jy oral by kerke, besighede of restaurante stempels kry as bewys dat jy wel gestap het. Hier en daar kry jy fietsryers wat die Camino ry. Daar is ook honde aan leibande wat dit saam met hul base doen. Een persoon het vertel dat sy hond 100km vanaf Saria saam met hom gestap het. Die wonderlikste vir my is die vriendelike vreemdelinge langs die pad, almal vol energie en met een doel voor oë: Om jou stap te geniet en by Santiago de Compostella uit te kom!”
Elzabe het letterlik al duisende kilometers se staproetes oral oor die wêreld gestap. “Van Mpumalanga, na Namibië, die Kaap. die Mt Black 200km-roete in Frankryk deur Italië en Switserland, die Tuinroete… daar is nog baie meer.”
Vir Elzabe ding musiek en stap mee vir die grootste passie. Ek het ‘n groot liefde vir die natuur, ek hou daarvan om fiks te wees en dit is goed vir die gees. Ek wil vir mense sê: Stap terwyl jy kan!”