Twee inwoners van Hartbeespoort, Glenn Smit (73) en Elzabe Spies (77), het verlede maand die 280 km Camino van Hoop-staptog in 14 dae van Uniondale na Mosselbaai gestap.

Uit die groep van sewe was vyf stappers ouer as 70! “Ons het tussen 18 tot 23 km per dag gestap, met net jou klein dagsak vol peuselgoed, water, reënbaadjie en iets warms vir ingeval. Die roete is hoofsaaklik tussen die Outenikwa- en die Kammanassieberge en elke dag was ‘n ander belewenis,” sê Elzabe
Hulle het deur klein plekkies soos Avontuur, De Vlugt, Kliprivier, Noll, Eenzaamheid, Buffelsdrift, Daskop, Louvain, Zebra, Herold, Arendsrus ens, gestap voor hulle in die eerste dorp, George aangekom het.”Ons is letterlik oor berge en dale, deur Karoovlaktes, volstruis-en skaapplase, vrugteboorde, groente- en graanplase, en oor riviere. Ook twee bekende bergpasse, die Prins Alfred- en Montagupas. Daar het ons by die ou Tolhuis ‘n wonderlike ontvangs gehad en elkeen het ‘n medalje gekry.”
Sy sê die mense wat hulle op hul staptog ontmoet het was ongelooflik gasvry en het dikwels “die tweede myl” saamgestap.
“By Holgate het ons vir 5 km op ’n ou treinspoor in twee trapspoorwegkarretjies gery wat groot pret was. Laatmiddag was die voete moeg en die liggaam styf. “Saans het sy partykeer gedink jy gaan dit nie die volgende dag maak nie, maar dan stap jy maar net voort. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding. Ons het soveel plaaslike inwoners ontmoet wat soos vriende gevoel het. Wat vir my die lekkerste was, was die stilte. Dit is net jy en jou gedagtes. Ek was sommer vies toe ons in George aankom en daar is teerstrate en verkeer en mense en lawaai!”
“Die laaste 2 dae stap mens kuslangs en strandlangs. ‘ n Dame van Mosselbaai het kom gesels en gewys na die hele baai van Mosselbaai. “This is my Cathedral, I come here every morning,” het sy gesê. Die stilte wat mens in die natuur ervaar het was wonderlik! Een boer by n gasteplaas adverteer sy plek vir “a digital detox” Geen TV! Dit was ‘n multi-dimentionele 14 dae belewenis!
By die St Blaize-ligtoring by Mosselbaai het die stappers ‘n sertifikaat ontvang dat hulle dié Pelgrimstog van Hoop voltooi het.
Dit is nie Elzabe se eerste Camino nie. Sy het reeds in 2008 the Camino in Spanje voltooi. En haar langste staptog was die Klein Karoo-staptog oor 310 km.
Die volgende een wat sy wil stap is die Agulhas volgende jaar. “Dit is geleenthede wat op jou pad kom wat jy nie kan weier nie. Om so in die natuur te stap, gee jou opnuut ‘n besef van in hoe mooie land ons in woon, en hoe wonderlik die natuur is.”