Familie verloor alles in brand

09/07/2024News

Die brand het alles vernietig.

‘n Familie van vyf van Hartbeespoort het Dinsdagoggend in ‘n oogwink alles verloor toe ‘n brand onverklaarbaar in hul huis by Schurveberg uitgebreek het.
“My skoonsuster, Alet, het Dinsdagoggend kort na ons almal werk toe is, rook by een van die kamervensters sien uitkom en die volgende oomblik was die huis in vlamme,” het ‘n verslae Douwlina van Rooyen Dinsdagmiddag aan Kormorant gesê.
“Sy het ons vier honde in ‘n veilige buitegebou probeer toemaak, maar een het losgekom en in die brandende huis ingehardloop en doodgebrand. Alet het self die vlamme met ‘n tuinslang probeer blus, maar dit klink of dit so vinnig verby was dat toe die brandweer opdaag was alles reeds verbrand. Ons het letterlik net die klere aan ons lyf oor.”
Douwlina, Alet en ‘n egpaar met ‘n negejarige kind het in die huis gewoon. Die familie het Dinsdag ‘n tydelike plek gekry om te slaap. “Ons is nog te verslae en weet nie eintlik wat om te doen nie. Ons is net dankbaar dat ons almal veilig is dat ons ander hondjies oorleef het. Mense vra vir my het jy iets nodig? Dan besef ek, ek het nie eers ‘n tandeborsel of ‘n handdoek nie. Dit is so vreemde gevoel.”
Lede van die publiek wat die familie wil help met skenkings van klere, huisware en ander benodighede, kan skenkings by die Schoemansville Apteek aflaai, or stuur ‘n boodskap aan 074 753 6123.