‘n Agtienjarige fietsryer van Hartbeespoort is Woensdagmiddag deur ‘n aanvaller met ‘n mes van sy fiets afgepluk en aangerand in ‘n poging om hom te beroof.
Stehan Wolmarans het ongeveer 12:45 tydens ‘n oefenrit op ‘n grondpad naby die Rietfontein rioolwerke gery toe hy die aanvaller teëgekom het. “Ek het die man sien loop en hom gegroet en toe ek verby hom ry, gryp hy my en pluk my van die fiets af. Ek het geval en hy het my begin slaan,” het Stehan kort na die voorval aan Kormorant vertel.
“Hy het my met ‘n klip teen die kop geslaan, maar ek het gelukkig nog my valhelm opgehad. Ek het terug baklei en toe pluk hy ‘n mes uit en steek na my. Ek het sy arm gegryp en die mes het my op die bors gesny. Ek kon daarin slaag om regop te kom en toe skop ek hom. Hy het vooroor gevou en ek het hom weer geskop. Hy het geval.”
Stehan het sy selfoon, wat die man intussen van hom afgeneem het, gegryp en op sy fiets gespring en weggejaag. “Ek het die fiets getrap en nie omgekyk nie.”
Die polisie is kort daarna saam met Stehan na die toneel, maar hulle kon die aanvaller nie opspoor nie.
Stehan het ‘n snywond en gesigbeserings opgedoen.
“Ek wil alle fietsryers waarsku om nie alleen te ry nie. Dit is te gevaarlik. Ek het nou my les geleer. Ry in groepe en wees bewus van jou omgewing en verdagte mense.”