Fietsryer wreedaardig met panga en hamer aangeval, in sloot gegooi

‘n Vyftigjarige man van Brits wat Saterdagoggend vroeg met sy fiets op pad werk toe was, is deur twee mans oorval en wreed met ‘n panga en hamer aangeval voor hy in ‘n watersloot gegooi is. Die aanvallers het met sy fiets en werksak gevlug.

Flippie Gouws (50) is tans in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal in Pretoria na hy verskeie kopwonde en skedelbreuk opgedoen het.

“Volgens Flippie het hy kort na 05:00 naby Buco in Hendrik Verwoerdlaan langs twee mans verbygery toe hulle hom van sy fiets afruk.  Een het ‘n panga, en een ‘n hamer gehad en hulle het hom herhaardelik oor die kop en gesig gekap en geslaan terwyl hulle vra vir ‘n ‘gun’.  Hy het net sy werksak by hom gehad. Hulle het hom toe in ‘n sloot vol water langs die pad gegooi en met sy fiets en sy werksak, waarin net sy middagete was, gevlug,” het sy vrou Maurene aan Kormorant gesê.

Flippie kon daarin slaag om na die Bridgestone-fabriek, waar hy werk, te strompel. “Hulle het ‘n ambulans ontbied wat hom na Brits Mediclinic geneem het. Hy het verskiklik gebloei en dokters moes eers die kopwonde heg voor hy na die intensiewesorgeenheid in ‘n hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. Hy het skedelbreuk opgedoen, maar volgens die dokters is daar gelukkig nie breinskade nie,’ het sy gesê. “Ons is net so verlig hy lewe.”

Volgens Maurene is daar nog nie ‘n saak by die polisie geopen nie omdat ‘n polisiebeampte vir haar gesê het Flippie moet eers ‘n klag lê na hy uit die hospitaal ontslaan is.

“Flippie is darem nou uit die intensiewesorgeenheid, maar volgens die dokters sal hy vir die volgende maand nie kan werk nie. Hy sal moontlik nog geruime tyd in die hospital wees.”

Kormorant het ‘n navraag by die polisie ingedien.