Het jy geweet jou vyf oorbodige items, of skenking van jou dienste kan ‘n lewensbelangrike verskil in iemand se lewe maak?

Solidariteit Helpende Hand se Gee 5-projek poog om die gemeenskap betrokke te kry by maatskaplike kwessies in hul gemeenskap.
Deur vyf items wat jy nie meer wil hê nie te skenk, of vyf mense te help deur middel van jou professie, word jy deel van die Gee 5-projek.
“Solidariteit is ’n nie-winsgewende organisasie wat fokus op die vooruitgang van die gemeenskap deur maatskaplik-gebaseerde gemeenskapsontwikkeling. Helpende Hand se maatskaplike werkers en taklede staan kwesbare groepe in die gemeenskap soos. kinders, bejaardes, gestremdes en die families van hierdie groepe by. Behoeftes en uitdagings binne hierdie kwesbare groepe asook hulpbronne en netwerke binne die gemeenskap word op ‘n holistiese manier benader en geïdentifiseer en deur middel van gemeenskapsprojekte aangespreek,” sê Nadia van der Merwe.
Solidariteit Helpende Hand is nie ‘n kinderbeskermingorganisasie nie en die maatskaplike werker en taklede beywer hulle om gemeenskapslede, netwerke en hulpbronne meer effektief te laat saamwerk. Solidariteit Helpende Hand ondersteun graag die kinderbeskermingorganisasies en verleen hulp sover hulle kan om die druk te verlig.
Die Gee 5-veldtog vra nie net dat jy vyf artikels aan Ons Winkel skenk nie, maar veldtog daag ook professionele persone binne die mediese bedryf, skoonheidsbedryf, sport en kultuur-afrigting, skole en kerke uit om hulle vyf te gee. “Jy word ‘n vennoot om binne jou professie vyf persone in hierdie kwesbare groepe by te staan en te help,” sê sy.
Die Shalom Kleuterskool in Hartbeespoort was van die eerste gemeenskapslede om by die Gee5-veldtog aan te sluit. Die skool het nie net hulle vyf gegee nie, maar ook vyf projekte gekies waar hulle ‘n verskil kan maak. Hul eerste twee projekte was skenkings aan Ons Winkel asook skenkings aan die Hartbeespoort Biblioteek.
Mense wat belangstel om deel te word van dié projek kan die volgende persone kontak: Nadia (maatskaplike werker) 083 613 1238, Desiree (streekorganiseerder) 078 365 8777, Janet (Ons Winkel) 061 945 1917.