Geliefde Elsabé Holm oorlede

Die geliefde Hartbeespoort-inwoner, Elsabé Holm, is Donderdag onverwags in die ouderdom van 77 oorlede.


Elsabé, die vrou van die bekende entomoloog, Erik Holm, en ma van die akteur, Erik Holm, was alom bekend in Hartbeespoort vir haar groot omgee vir mense, haar gemeenskapswerk, die glimlag wat nooit haar gesig verlaat het nie en haar toewyding aan haar familie en vriende.
Huldeblyke het sedert Donderdag ingestroom vir dié vrou wat ‘n spesiale plek in almal se harte het wat haar geken het.
“Rus in vrede ons liewe, liewe, liewe Elsabé Holm. Die goue gom van die Holm familie en die hele Harties. Die mooiste, mooiste mens. Dankie vir die blomme, die plantjies, die klippe, die eiers, die liefde en die lag. Tonne liefde aan my geliefde Holm tribe,” het aktrise, Hannelie Warren, in ‘n Facebook-plasing gesê.
“Vanaand slaan ons ons oë op, nog hoër as die berge, en ons wonder of dinge hier op aarde ooit weer dieselfde sal wees sonder ons tannie Ebs.
Liefste tannie Elsabé, die sagte mens, met die sagte omgee oë, die luister – met die doel om ‘n oplossing te vind vir jou situasie -of dit nou ‘n probleem is, of nie…
Tannie Elsabé, wat selde stil sit en altyd ‘n kuiken, hond of mens voer. Rus nou sag, ons gaan okay wees, ons sal ietsie eet en ietsie vind om aan te trek.
Ons sal ook nou bietjie fyner luister en bietjie méér omgee, want ons het gekyk en geleer en ons weet nou… – dit was goed en dit was nodig – dankie – ons het tannie lief!,” het Annemarie Burger, ‘n familievriend gesê.
“Today we said goodbye to my Beautiful, airy-fairy grandmother, that loved us unconditionally
and whom was loved by all who knew her. Lief vir Ouma. Nou en vir altyd. Ons gaan Ouma elke dag mis,” was haar kleindogter, Embla Holm, se plasing op Facebook.
Elsabe laat haar man, Erik, kinders, Erik, Nieke, Kora en Louise, en haar kleinkinders Embla en Hjallie na.