Een van Hartbeespoort se bekendste inwoners, Rina Fritze, oftewel Tannie Slaai soos sy alledaags bekend was, is Saterdag, 12 Junie, in die ouderdom van 81 weens COVID-19-komplikasies oorlede.

Dié geliefde vrou se gewilde Mr Salad-tuisnywerheid is ‘n landmerk in Hartbeespoort en haar altyd-teenwoordige glimlag was deel van die winkel se aantrekkingskrag.
Rina en haar man, Joe, het hulle in 2001 in Hartbeespoort kom tuismaak en sy het Mr Salad geopen. Die res is geskiedenis. Sy het vir meer as 20 jaar hier gewoel en gewerskaf en diep in Hartbeespoort-inwoners se harte gekruip. Mr Salad en Rina het die “go-to” geword vir Hartbeespoort se inwoners wat nie tyd het om te kook en bak nie. Haar dogters, Kiki en Lali, het die afgelope jare gehelp om die suksesvolle tuisnywerheid te bestuur.
Meegevoel en hartseer is die afgelope week wyd op sosiale media uitgespreek en inwoners het sedert verlede naweek daagliks blomme voor die winkel geplaas.
“Ons as gesin, en familie, sê baie dankie aan ieder en elk wat eer kom betoon het by die winkel deur blomme, kersies en briefies te plaas. Ons is seker sy het elke boodskap gelees, en boonop die spelfoute gekorrigeer! Ons waardeer die oproepe, boodskappe – persoonlik en via sosiale media. Aan die hele Harties-familie, dankie vir die liefde, omgee en troos,” het haar familie dié week gesê. “Ons salueer jou, Vrou, Ma, Ouma, Oumagrootjie, Peetma – jy was enig in jou soort!”
Inwoners het op verskeie Facebook-groepe hulde aan “Tannie Slaai” gebring:
“Wat ‘n groot verlies. Ons gaan Tannie vreeslik mis. Tannie is en sal altyd in my hart wees.”
“RIP tannie Rina sal jou nooit vergeet nie… ‘n regte engelvrou.”
“Dorp gaan net nie dieselfde wees sonder haar nie…”
“Harties het een van ons grootste ikone verloor. Tannie Rina was ons almal se ouma, ma of vriendin. My hart is seer. Elke geboorte, doop, verjaarsdag of gebeurtenis in ons familie se lewe was sy deel van. Sy was in ons kombuise en op ons mooi gedekte tafels. Die heerlikste gebak en kos wat ek vir EWIG sal koester. Tan Slaai, ons gaan Tannie mis.”

Sy laat haar man, Joe, drie dogters – Barbara, Lali en Kiki -, kleinkinders, agterkleinkinders en peetkinders na. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.