Gemeenskap staan saam om inwoner se suurstofnood te verlig

Inwoners van Hartbeespoort en Brits het verlede week weer bewys dat hulle altyd gereed is om mede-inwoners in nood te help.

Die gemeenskap het vinnig gereageer om Dirk Grabe (50) te help asemhaal.

Inwoners in albei dorpe het geskarrel om suurstofbottels bymekaar te maak toe Dirk Grabe (50) weens ‘n daelange kragonderbreking ‘n suurstofkrisis beleef het.

Dirk, ‘n inwoner van De Kroon, is onlangs uit die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal ontslaan en is 24 uur per dag op suurstof. Hy is afhanklik van ‘n elektriese toestel wat suurstof genereer. Toe die krag in hulle gebied verlede Maandag onderbreek is weens ‘n gesteelde transformator, was daar net sowat twee ure se suurstof in die suurstofbottel beskikbaar. Boonop het sy vrou, Thelma, se motor onklaar geraak en die gesin was gestrand op die hoewe.

“Ek het op ons kraggroep vir hulp gevra en raadslid Elsa Lourens het Donderdag ‘n noodroep op Facebook geplaas,” sê Thelma, wat nie net haar man versorg nie, maar ook haar 83-jarige vader wat terminale kanker het. “Ek was desperaat. Ek het nie vervoer of geld nie en ons was in ‘n krisis.”

Volgens Lourens was die reaksie weer ‘n bewys dat die gemeenskap saamstaan om dié in nood te help. “Binne ‘n kort tyd het mense van oral in ons gebied gereageer. Ons het ‘n bottel uit Ifafi en nog een van Carribean Beach in Hartbeespoort ontvang en nog inwoners het gebel wat bottels beskikbaar het. Aequitas Sekuriteit het aangebied om suurstofbottels aan te ry indien nodig.”

Die Grabe-gesin is die afgelope byna twee jaar deur diepe waters. Hul seun, Dieter (21), is in Februarie 2021 wreed vermoor toe hy sy vriend se lewe tydens ‘n aanval in Brits gered het. Vyf rowers het Dieter en sy vriend oorval en hy het sy vriend weggeruk toe die rowers hom met ‘n mes wou steek. Dieter is toe doodgesteek. Twee maande later is Thelma se pa met kanker gediagnoseer.

“Sedert Dieter se dood, het my man se gesondheid agteruit gegaan en hy benodig nou 24 per dag suurstof om aan die lewe te bly. Tussen al die donker, het die gemeenskap se bereidwilligheid om te help die afgelope week my weer hoop gegee. Daar is goeie mense daar buite. Dankie aan elkeen wat gehelp het om my man se lewe te red. Ek het nie woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie.”