Gemeenskap voer die gemeenskap

Pick n Pay Village Mall skenk kospakkies vir mense in nood.

Die afgelope drie weke in inperking het reeds sy tol geëis met ‘n groot aantal mense in die Madibeng-gebied wat werkloos en honger is. ‘n Aantal voedingskemas het in bykans elke gebied ontstaan and lede van die gemeenskap in die onderskeie gebiede span nou saam om dié in nood in hulle gebied van kos te voorsien.

Hartbeespoort se Harties – Help Is On The Way/Hulp Is Oppad het reeds meer as 5 000 mense van kos voorsien en het die afgelope Dinsdag alleen sowat 2 500 kospakkies uitgedeel. Pick n Pay Village Mall het as deel van die Pick n Pay-groep se Feed the Nation-projek, onderneem om sowat R250 000 se kos vir dié doel te skenk.

Harties – Help Is On The Way/Hulp Is Oppad maak gebruik van kos- en kontantskenking uit die gemeenskap en dek Hartbeespoort en omliggende gebiede. Maak kontak met dié projek deur by hul Facebook-groep aan te sluit.

In De Wildt probeer die Huis van Gebedsbediening saam met ‘n groep inwoners sorg dat sowat 100 gesinne in nood met kospakkies gehelp word. “Voor die inperking het ons maandelik 85 gesinne gehelp, maar nou is daar dringende nood by meer as 100 gesinne en ons moet raap en skraap om almal te help. Die skenkings is nie baie nie en ons waardeer hulp van enige aard,” sê Engela van Coppenhagen. Skenkings van kos kan by die kerk afgelewer word of andersins kan dit afgehaal word.
Kontak Engela by 066 247 2994.

In Brits hanteer die Soetdoring Geleentheidsfonds ‘n voedingskema vir sowat 300 huisgesinne.
“Daar is baie mense wat dringend kos nodig het en ons word toegegooi met versoeke om hulp. Daar is nie koshulp van die regering in Noordwes nie en ons hanteer ook tans Helpende Hand Noordwes se behoeftiges in Madibeng sodat hulle op ander gebiede kan konsentreer wat ook nie hulp ontvang nie,” sê Elsa Lourens. “Self die kleinste bydrae maak in iemand se lewe ‘n verskil.”
Kontak Elsa by 064 664 2060.

Ouers van kinders in Laerskool Generaal Hendrik Schoeman en gemeenskapslede dra ook by om behoeftige kinders in die skool en hul gesinne te ondersteun in dié tyd. By die 30 gesinne ontvang gereeld kospakkies. ‘n Vetkoekdag vir dié gesinne word vir Vrydag, 17 April, beplan. Mense wat wil bydra met vetkoeke of kontant, kan Janet Papenfus by 061 945 1917 kontak.