Gerrie Nel in Brits-hof vir ondersoek na gevangene se dood

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van ‘n man in aanhouding 17 jaar gelede, is Maandag in Brits Landdroshof op die hofrol geplaas om in Februarie 2022 voor te kom.

Adv Gerrie Nel, Robert McBride, kol Johan Booysen en Andrew Leask by Brits-landdroshof

Solomon (Solly) Nengwane is in 2006 in die Mmakau polisiekantoor in aanhouding dood en na 17 jaar is niemand nog vir sy dood vervolg nie.

Advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en advokaat Phyllis Vorster, ’n aanklaer by dié eenheid, tree namens Nengwane se familie in hierdie ondersoek op. Die persone van belang is sewe senior polisiebeamptes onder wie se toesig die slagoffer in 2006 in aanhouding oorlede is. Een van die persone is maj-genl Jan Mabula, die destydse omstrede Noordwes adjunk-polisiekommissaris.

“Nengwane se familie het die privaatvervolgingseenheid genader om hulp omdat niemand ná 17 jaar vir sy dood aanspreeklik gehou word nie. Nengwane is een van vyf persone wat in 2006 gearresteer en deur die polisie ondervra is nadat miljoene Amerikaanse dollar, asook dwelms uit ’n Benoni-polisiestasie gesteel is. Die sewe persone van belang in die ondersoek was destyds deel van die taakspan wat saamgestel is om die saak te ondersoek. Die gesteelde geld en dwelms is egter nooit gevind nie en verskeie getuies in hierdie saak het luidens mediaberigte onder verdagte omstandighede verdwyn.,” het Afriforum-woordvoerder, Carina Bester gesê.

“Nengwane is op 6 Junie 2006 oorlede nadat hy deur die persone van belang gearresteer is. Die weergawe is dat die polisie vir Nengwane na die Dr. George Mukhari Hospitaal geneem het en dat hy reeds geruime tyd oorlede was toe hulle by die hospitaal aangekom het. Die polisie het sy liggaam by die hospitaal gelos.

Volgens verskeie mediaberigte tydens sy dood is hy verwurg en was hy ‘n polisie-informant.

In 2018 het die Suid-Gauteng Direkteur van Openbare Vervolging besluit dat die 10 polisie-offisiere vervolg moet word, maar daar het niks van gekom nie.

Slegs vyf van die sewe polisiebeamptes wat persone van belang is, het Maandag in die hof verskyn, ondanks die feit dat hulle almal gedagvaar is om teenwoordig te wees en ook op ’n vorige hofdatum versuim het om op te daag. Nel het geargumenteer dat die twee afwesige persone (genl-maj Ntebo Jan Mabula en kol Ishmail Dawood) tegnies gearresteer moet word omdat hul afwesigheid ’n misdaad daarstel ingevolge die Strafproseswet 51 van 1977. Nel het egter aangevoer dat die lasbriewe vir hul arrestasie oorgehou moet word tot Februarie 2022 wanneer die geregtelike doodsondersoek begin.