‘n Gesin in De Wildt het die afgelope naweek alles verloor toe hul huis by De Wildt afgebrand het.

Kobus Bester (32) en sy ma, Rina (61), het nie net die huis nie, maar ook hul inkomste verloor toe die brand, wat deur kwaaddoeners in die veld digby die huis gestig is, die huis in ligte laaie laat opgaan het.
“Daar is niks oor nie, net ‘n huisgeraamte. My seun kon net met die klere aan sy lyf betyds uit die huis kom,” het Rina gesê. Kobus, wat ‘n herwinnigonderneming bedryf, het buiten die huis en alles daarin, ook derduisende rande se herwinningmateriaal verloor. Rina, ‘n entrepreneur wat antieke ware en handgemaakte artikels verkoop, se items was ook in die huis. Rina se nabygeleë huis kon darem gered word.
“Sondagmiddag kort na 13:30 het iemand die brand digby Kobus se huis begin. Hy was alleen in die huis en kon gelukkig betyds uit die vlamme ontsnap. Ons het ‘n noodroep op WhatsApp-groepe uitgestuur en probeer vuur slaan en keer, maar weens die wind het die vlamme vinnig versprei en toe is die huis aan die brand. “Ons kon nie meer keer nie. Ons het gesorg dat die honde veilig is en gewag vir hulp.”
Ongelukkig het hulp eers heelwat later opgedaag en Brits-brandweer en plaaslike inwoners met waterkarre het lank gespook om die brand te blus. Die brand het versprei na omliggende eiendomme en vuurvegters moes tot laat bontstaan om die brande te blus.
“Ons is platgeslaan. Weens die Covid-19 inperking, het ons sedert April nie ‘n inkomste nie en ons moes die plaas in die mark plaas. Ons het oorleef deur die Here se genade en hulp van familie. Nou is alles weg. Ons wil net almal in die gemeenskap bedank wat kom help het en woorde van bemoediging stuur.”
De Wildt het die afgelope weke erg onder brande deurgeloop. In die laaste weke het drie huise aan die brand geslaan and ongeveer 10 brande het weiding en veld op plase verwoes. Die brande is in byna alle gevalle deur kwaaddoeners veroorsaak wat die veld aan die brand steek.
“Ons waarsku mense om te sorg dat die area om hul huise skoon is en dat voorbrande in plek is om te verhoed dat eiendom beskadig word. Dit is tans baie droog en winderig en volgens die huidige nasionale brandverbod, mag niemand nou brand nie,” het Okkie Oosthuizen van die plaaslike brandbeskermingsvereniging, gesê.
