
Die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman het verlede week in ‘n opebrief van hul geliefde hoof, Mauritz du Preez afskeid geneem
“Dis nie totsiens nie … maar vaarwel.
Dit is sowaar altyd moeilik om afskeid te neem. Dit is soveel moeiliker om afskeid te neem van iemand wat op soveel gebiede impak gemaak het. Laerskool Generaal Hendrik Schoeman verloor nie net ‘n ongelooflike skoolhoof nie, nee, ons neem einde Oktober afskeid van ‘n mentor, leier, vriend, vertroueling en soveel meer. Leierskap is die eienskap om visie in werklikheid te verander; dit beskryf Mnr. Mauritz du Preez wat vir 13 jaar aan die stuur van sake gestaan het, hy het met ywer en sukses soveel vir die skool beteken. Ons staan vandag trots (of breëbors, soos hy sal noem) op ongelooflike geboue, ‘n terrein wat tot perfeksie beplan en gevorm is en leerders wat toppresteerders is op vele terreine. Mnr. Du Preez is ‘n leier soos geen ander, een wat dryf en voorloop en sonder enige twyfel of huiwering die taak saam aanpak en sorg vir sukses. Dit is duidelik sigbaar in ‘n skool wat gegroei het tot op die punt waar daar, onder sy leiding, nog klaskamers en ‘n personeelkamer aangebou is.
Akademies staan Laerskool Generaal Hendrik Schoeman nie terug vir enige ander laerskool nie, onder Mnr. Du Preez se leiding is hoë akademiese standaarde gedryf en studiegidse van hoogstaande gehalte is geskryf om selfs in die Covid-tyd die skip te laat vaar. Sy personeel het hy altyd met uitdagings en aanmoediging aangespoor om nuwe hoogtes te bereik, en met gerustheid weet ons die fondasie wat gelê is, is een waarop ons net verder kan bou. Richard Branson sê: ‘n Goeie leier is iemand wat inspirasie ontlok, nie vrees nie. Ons het geleer by die beste.
Balans is sowaar ‘n woord wat hom goed beskryf. Min hoofde sal gelyke waardering toon vir ‘n drie gedruk deur die eerstespan se slot, en ‘n revue wat die saal in oproer het. (Ons bied die gehalte van ons produksies aan, danksy sy visie en motivering). Hy het sowaar net soveel liefde vir sport as vir kultuur. Hy was in 13 jaar altyd teenwoordig, of dit by die koor se optrede is, of by die netbal se wedstryd! Staatmaker, steunpilaar en rots, altyd daar. ‘n Wakende ogie is op net mooi alles gehou, sy afteken by elke liewe projek het gesorg vir perfeksie en gehalte in ons doen en late. Dalk kan hy as perfeksionis beskryf word, maar met passie en ‘n hart vir mense.
Schoemies staan vandag rotsvas, voorloper op baie gebiede, geanker in geloof en met hoop vir die toekoms en dit is alles omdat ons so voortreflik gelei is tot hier. Mnr Du Preez het verseker ‘n impak op elke leerder se lewe gehad, elkeen wat hy sonder om te skroom op die naam groet as hy op die stoepe loop, elkeen wie se blad hy graag skud. Tyd vir geselsies was daar altyd en elkeen het gevoel dat hy die veilige hawe is waar afgepak kan word. ‘n Gunstige leeromgewing met die nuutste tegnologie en toerusting is vir hom belangrik, en maak van elke Schoemie ‘n beter, meer ingeligte leerder. Dit lyk onmoontlik, tot iemand dit regkry! So word selfs Nelson Mandela se woorde waarheid in ‘n uitmuntende voorloper.
Integriteit en ‘n gevestigde waardesisteem is kwaliteite wat Mnr. Du Preez ook goed beskryf. Hy het nooit geskroom om sy Christenskap heelhartig uit te leef nie, en het menige kinders aangemoedig om dieselfde te doen. Regverdigheid en gelyke geleenthede is iets wat hom na aan die hart lê en waarop Schoemies trots is. ‘n “Dankie” is nie naastenby genoeg nie, en ons sal nooit ons waardering genoeg kan verwoord nie. Schoemies sê vandag nie vir meneer totsiens nie, maar vaarwel. Ons weet daar is nog so baie om te bereik, te vermag en te oorwin. Ons hou elke oomblik van meneer se toekoms met afwagting dop.
November 2021 betree Laerskool Generaal Hendrik Schoeman ‘n nuwe era. Ons is opgewonde en sien met afwagting uit na die toekoms wat gebou is op ‘n stewige fondasie.
Mnr Francois Steyn tree in as waarnemende hoof, en 4 vise-hoofde is reeds in plek om te sorg dat ons koers hou.
Mnr. Kobus Gerber is aan stuur van akademiese sake in die Intersenfase en me Susan le Roux is by die Grondslagfase die rigtingaanwyser. Me. Maryke Jonker sal die koers aandui wat kultuur aanbetref en mnr Pieter van der Nest sal die sportsake hanteer. Geen stormwaters sal ons van stryk bring nie, ons beplanning is nog beter, hoër en flinker. Ons sien uit om u saam te neem op die vaart.”
- Laerskool Generaal Hendrik Schoeman