Goeie mense

“Die jongman het na my toe gestap, iets in my hand gedruk en vir my gesê ‘Hierdie is vir Oom-hulle. Die Here seën jou vandag’. Toe ek my hand oopmaak, is dit vol note!”

‘n Barmhartige samaritaan se goeie daad het Maandag ‘n groot verskil gemaak in die lewe van twee bejaardes in hul 80s van Schoemansville.

“Ons was in Pick n Pay om ons SASSA-geldjies te kry en inkopies vir die inperking te doen. Die jongman het van voor af gekom, my hand gevat en iets daarin gedruk en vir my gesê die Here seën my voor hy weggestap het. Daar was R500 in my hand. Ek het vir die tannie gesê ek moet die man kry om dankie te sê. Ek is agterna en het hom ‘n ent verder gesien. Ek het hom en sy vroutjie voorgekeer en sy naam gevra. Hulle het maskers gedra en ek is bietjie doof en kon nie sy naam mooi hoor nie. Sy vroutjie het haarself as Linda voorgestel,” het die 84-jarige oom, wat anoniem wil bly, aan Kormorant vertel.

“Ek en my vrou was so uit die veld geslaan en so dankbaar. Dié geld gee vir ons ‘n groot hupstootjie in dié tyd. Dit het vir al ons goedjies by die kasregister betaal. Ons wil net weer vir die jongman sê baie dankie. Dit beteken so baie vir ons. En vir die gemeenskap wil ons sê daar is nog baie goeie jongmense wat vir ons oues omgee.”

En namens Kormorant: Dankie aan al die goeie samaritane in ons gemeenskap wat help om hierdie moeilike tyd makliker te maak vir diegene wat dit nodig het.