Groot afname in pasiënte by spreekkamers sê plaaslike dokters

Plaaslike dokters sê hulle ondervind ‘n groot afname in pasiënte wat die spreekkamers besoek sedert die Covid-19 inperking afgekondig is.

Sommige sien soveel as 60% minder pasiënte as gewoonlik.

“Pasiënte wil nie spreekkamer toe kom nie en probeer konsultasies oor die foon doen. Ons kry WhatsApp-boodskappe met foto’s van babas se boudjies, steke, veluitslag en moontlike gebreekte vingers. As ons aanbeveel hulle moet die dokter kom sien, vra baie vra of die spreekkamer veilig is. Hulle blyk bang te wees dat hulle moontlik hier aangesteek kan word,” sê ‘n dokter.

“Winter is gewoonlik ons besigste tyd en ons is bekommerd dat mense dalk siektes oos bronchitis and ander gevolge van verkoue en griep sal ignoreer.”

Nog ‘n dokter reken die afname in doktersbesoeke kan ook toegeskryf word aan die feit dat mense isoleer en dat hulle versigtig is om geld uit te gee. “Mense bly by die huis, verkeer nie sosiaal nie en ‘n groot faktor is ook kinders wat nie skool toe gaan nie. Skole en kleuterskole is ‘n groot faktor in die verspreiding van siektes soos verkoue en griep,” sê hy.

“Selfs roetine-ondersoeke is minder en dit is iewat kommerwekkend. Op die oomblik besoek mense ons net met noodgevalle.”

Nog ‘n dokter stem saam dat mense met kroniese siektes soos hoë bloeddruk en diabetes ook nie meer gereeld vir ondersoeke opdaag nie. “Dit is belangrik dat hierdie mense na hulself kyk en nie hul gesondheid afskeep nie.”
Pasiënte word aangeraai om hul dokter te kontak met hul simptome en hy sal dan aanbeveel of hulle die spreekkamer moet besoek. Indien hulle dink hulle het moontlik Covid-19, sal die dokter volgens die simptome besluit of hulle getoets moet word. “Die simptome is hoofsaaklik koors, ‘n droë hoesie en benoudheid.”

Andersins hoef mense nie bang te wees om dokters te besoek nie. “Dokters se spreekkamers word deurentyd gesaniteer, alle pasiënte se koors word geneem en sosiale afstand word streng gehandhaaf.”

Die department van gesondheid moedig ook mense, veral diegene met onderliggende kroniese toestande, om nie hul gesondheid af te skeep nie en steeds dokters besoek vir roetine-afsprake om te verseker dat hulle gesond bly.