Groot massapatrollie in Brits om misdaad te bekamp

Afriforum Brits se buurtwaglede het Vrydagaand saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye weer ‘n massapatrollie in en om Brits gehou. Altesaam 165 lede en 77 voertuie het in totaal sowat 3 074km afgelê. Dit was tot dusver Afriforum Brits-buurtwag se mees suksesvolle massapatrollie.

Afriforum Brits-buurtwag, polisie en sekuriteitsmaatskappye het aan die massapatrollie deelgeneem.

“Ons wil graag ons lede, sekuriteits-maatskappye en die polisie bedank wat saam met ons tydens die patrollie gewerk het,” buurtwagvoorsitter, Werner Claasen, gesê.

Die massapatrollie was deel van die AfriForum-buurtwagte regoor Suid-Afrika se nasionale patrollie in samewerking met die polisie, die plaaslike gemeenskaps-polisiëringforums, gemeenskapslede, en sekuriteitsmaatskappye.

Ondanks die hoë brandstofpryse het AfriForum-lede en die ander organisasies duisende kilometers gery om ’n verskil in hul onderskeie woonbuurte en op plase te maak.