Dreiers is sinoniem met Hartbeespoort en Brits, en die dryfkrag agter dié staatmakerwinkel, Cor de Jager, groet na 50 jaar in dié bedryf om na Australië te verhuis. “Dit is totsiens, maar ek sal julle hopelik weer sien,” sê dié bekende en geliefde persoonlikheid.

Cor de Jager in Dreiers waar hy ‘n bekende gesig was.

Hy het as jong ouditeur toevallig by dié landmerk, destyds in Brits, beland toe hy die hardewarewinkel se boeke in 1971 moes oudit. “Ek het nuwe rekenaartegnologie en boekhousagteware aangewend en hulle het my gevra om aan te bly. Ek het gedink ek sou dit vir so twee jaar doen, maar toe word dit 50,” lag hy.

Hy en sy vrou het na Hartbeespoort verhuis waar hulle vandag nog in Schoemansville woon. “Ons is vroeg getroud en is met ses kinders geseën.” Vier van sy kinders het reeds na Australië verhuis.

Die sukses van die winkel skryf hy toe aan eerlike saketransaksies en sy persoonlike lewensmotto “my woord is my woord” wat hy in in sy sakepraktyk toepas. “Ons beleid was ook alles onder een dak met vriendelike diens teen redelike pryse. En ek glo dit sal so voortgaan. Ons is deel van die gemeenskap en ons help groot waar daar nood is. Ek glo dat jy moet wees soos jou kliënte is. Moenie spog nie, wees nederig en eerlik, en hou jou beloftes.”

Cor is ook die eienaar van die Silkaats Natuurreservaat wat hy jare gelede gekoop het weens sy liefde vir die natuur. “Ons het dit vir baie jare geniet en ek hoop dit sal lank nog ‘n wildtuin bly vir natuurliefhebbers om te geniet.” Hy sal sy belange in die reservaat, net soos in Dreiers, behou.

Cor het gedurende sy leiding by Dreiers streng geglo in gemeenskapsbetrokkenheid. “Ons het skole en ander organisasies in nood gehelp waar dit nodig was. As iemand by die winkel ingekom het met ‘n lysie, is hy nie weggewys nie. Toe die munisipaliteit ‘n water reservoir op Silkaatsnek wou oprig, het ek toestemming gegee dat hulle dit op my grond doen. Ek glo daaraan om die gemeenskap te stimuleer.”

Die De Jagers is ‘n hegte gesin en vir Cor is familie, geloof en eerlikheid die prioriteite in sy lewe. “Hierdie dinge is nie onderhandelbaar nie. Ek lewe konserwatief en ek doen besigheid konserwatief. Geld is nie belangrik nie, mens kan nie die Venter-sleepwaentjie saamvat graf toe nie.”

Oor sy verhuising na Australië is hy opgewonde. “Ek voel egter so bietjie soos die man in ‘n gedig wat ons op skool geleer het. Ek kan nie meer presies onthou nie, maar die man sit langs ‘n vuurtjie en sy hart trek in twee rigtings… dit is hoe ek voel. Dit is die lewe. Ons is lief vir die land, maar dit is tyd om in vrede te gaan ontspan. Ek gaan nie stilsit nie. Ek gaan so bietjie boer, tuinmaak en woeker in die andelemark. En ek sal tred hou met wat hier gebeur.”Hy sien uit na ‘n ontspanne lewe. “Dit is ‘n ander wêreld in Australië. Mense sluit nie hulle huise of motors nie, niemand kyk oor hul skouers nie en jy hoef nie styf aan jou sak vas te hou as jy bank toe gaan nie.Ek sien uit daarna, maar ek wil weer Suid-Afrika toe kom as dit moontlik is. Dit is totsiens, maar ek wil julle weer sien.”

Cor verlaat Suid-Afrika vir sy nuwe tuiste in April. Ons wens hom alle voorspoed toe.

Also Read:

  • Categories: News
    Plaaslike vlieënier sterf in vliegtuigongeluk
  • Categories: News
    Husband in court after fatally shooting wife, stepdaughter
  • Categories: News
    Eleven miners die, 75 injured in mine accident